Die vakbond Solidariteit het vanjaar se loonseisoen op ʼn hoë noot met drie gunstige loonooreenkomste afgesluit. Die vakbond het verlede week met AfriSam, die sementvervaardigingsmaatskappy, op ʼn 7,5%-verhoging op lede se basiese salaris ooreengekom. Daarbenewens het die vakbond met die bestuur van Comair ooreengekom dat hul kajuitbemanning, as deel van ʼn driejaarooreenkoms wat reeds in Junie vanjaar bereik is, in 2013 ʼn verhoging van die verbruikersprysindeks (VPI)+ 2% op hul basiese salaris sal ontvang. Die vakbond het boonop ook met die bestuur van Lafarge Cement in Lichtenburg ooreengekom dat werknemers ʼn 7%-verhoging op hul basiese salaris sal ontvang.
Benewens ’n algehele loonverhoging van 7,5% sal werknemers van AfriSam se skof- en bystandstoelae ook met 7,5% verhoog word. Elke werknemer sal ook ’n eenmalige skikkingsbonus van R1 229 ontvang. Kwessies oor werknemers se mediesefondsbydraes en behuisingstoelae sal voor die einde van Januarie weer bespreek word, maar sal waarskynlik steeds deel van werknemers se totale kostepakket uitmaak. Intussen sal Lafarge Cement se bystand-, skof- en reistoelae boonop ook met 7% verhoog word.
Volgens Moira-Marie Kloppers, woordvoerder van Solidariteit, is die loonooreenkoms met Comair egter onderhewig aan die maatskappy se groei in 2013. “Indien die maatskappy se wins nie met 2% groei nie, sal die werknemers ongelukkig nie die loonverhoging van VPI + 2% ontvang nie. Solidariteit is egter positief dat die maatskappy die nodige groei sal toon,” het Kloppers gesê.
Volgens Kloppers is die loonooreenkomste ʼn welkome Kersgeskenk vir Solidariteit-lede. “Die vakbond is in sy skik met die wyse waarop die onderskeie onderhandelinge verloop het en is positief dat toekomstige onderhandelinge met dié maatskappye ook goed sal verloop,” het Kloppers afgesluit.