Vakbond vra Sisulu om korrupsiebewerings te ondersoek

Die vakbond Solidariteit het vandag in ʼn skrywe aan Lindiwe Sisulu, minister vir die staatsdiens en administrasie, versoek dat bewerings van korrupsie waarby hoëvlak-polisielede betrek word, ondersoek word.

Dit kom na berigte in die naweekpers dat ’n polisiekolonel al jare lank vergeefs probeer om korrupsie binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan die kaak te stel. Kol. Johan Roos, wat deur Solidariteit in ʼn arbeidshofgeding teen die SAPD verteenwoordig word, het in ʼn beskermde bekendmaking gesê die minister van polisie, die kommissaris van polisie en verskeie spesialis-ondersoekeenhede weet van die korrupsie, maar dat dit in die doofpot gestop word. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê minister Sisulu het onlangs in die openbaar oorlog teen korrupsie verklaar en te kenne gegee dat dit nie geduld sal word nie. Kruger sê dié bewerings is die ideale geleentheid vir Sisulu om die erns waarmee sy korrupsie in die openbare diens bejeën, te bewys. “Ons doen ʼn beroep op minister Sisulu om hierdie aangeleentheid die eerste opdrag van die nuwe teenkorrupsieburo van haar departement te maak. So ʼn stap sal bevestig dat minister Sisulu werklik ernstig is om korrupsie die stryd aan te sê.”

Rapport en City Press het die naweek berig dat hulle in besit is van ’n lêer wat geheime verslae en amptelike dokumente rakende die plundering van ʼn geheime polisiefonds sowel as Roos se dringende pogings om die plundering by sy base aan te meld, bevat. Die skokbewerings wat uit die lêer spruit, sluit onder meer in dat agente wat bevriend was met hoëvlak-polisielede glo meer as R8 miljoen in eise en belonings betaal is, dat vals eise ingedien is en dat nagenoeg 250 poste deur toppolisielede se vriende en familielede gevul is.

Solidariteit tree namens Roos in ʼn saak van diskriminasie in die Johannesburgse arbeidshof op. Die inligting wat gedurende die naweek aan die lig gekom het, is ʼn kardinale deel van die diskriminasiesaak. Kruger sê hoewel Solidariteit Roos slegs met sy arbeidsdispuut kan bystaan, geen steen onaangeroer gelaat moet word om die bewerings van korrupsie wat ongestraf gelaat is, behoorlik te ondersoek nie. “Ingryping deur minister Sisulu, in omstandighede waar ander hooggeplaastes in regeringskringe oënskynlik onwillig was om enige bewerings van korrupsie te laat ondersoek ten spyte van verdoemende getuienis wat deur Roos voorgelê is, sal bewys dat sy werklik ernstig is oor haar voorneme om korrupsie deur daadwerklike optrede hok te slaan,” sê Kruger.

Die saak wat Solidariteit namens kol. Roos in die arbeidshof voer, is reeds in ʼn gevorderde stadium en ʼn verhoordatum sal na verwagting eersdaags verkry word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarie van Niekerk ·

Ek hoop regtig die minister het die moed van haar oortuiging om haar uitsprake in die openbaar oor die uitroei van korrupsie in staatsdepartement werklikheid te laat word met haar eerste groot ondersoek na beweerde korrupsie en bedrog binne die polisie. Dit wat in die media uitgekom het oor die naweek is skokkend as dit as waar bewys word. Dit klink vir my al die bewyse is daar so dit gaan nie eers ‘n vreeslike ondersoek verg nie. Stel die kuldiges aan die kaak en paradeer hulle in die openbaar sonder aansiens des persoon. Kom minister Sisulu,bewys dat jy dit opreg bedoel het toe jy gese het dat jy korrupsie en bedrog in die staatsdiens gaan uitroei. Hier is klaarblyklik nou jou kans

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.