ʼn Organiseerder van die vakbond AMCU is Saterdag in Rustenburg, Noordwes doodgeskiet.
Brig. Thulani Ngubane, woordvoerder van die polisie, sê die 46-jarige man is Saterdagmiddag in ʼn kroeg naby Anglo Platinum se Khomanani-myn doodgeskiet. Ngubane sê die man het saam met vriende sokker gekyk toe vier mans in blou oorpakke die kroeg binnegekom het en hom vier keer in die rug geskiet het met ʼn 9mm-pistool. Hy is op die toneel dood verklaar. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie. eNews Channel Africa berig dat die oorledene voor die Marikana kommissie van ondersoek sou getuig. Die kommissie doen ondersoek na die dood van 44 mynwerkers verlede jaar by Lonmin se Marikana-myn.