Vakbondverteenwoordiger by Marikana doodgeskiet

ʼn Vakbondverteenwoordiger van NUM is Maandag by Lonmin se Marikana-myn buite Rustenburg doodgeskiet.

Die moord op die 44-jarige vrou volg ʼn paar dae voordat die Marikana-bloedbad van 2012 herdenk word. “Die vrou, wat ʼn werker by die myn was, was nie aan diens toe die voorval plaasgevind het nie,” het brig. Thulani Ngubane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Sy is omstreeks 12:30 in die kop geskiet nadat sy ʼn winkel besoek het. Sy was glo onderweg na NUM se kantoor by Lonmin se Rowlandskag. Haar aanvallers het van die toneel gevlug terwyl hulle lukraak geskiet het. Ses 9mm-patroondoppies is op die toneel gevind.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Volgens Ngubane is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die vrou is vermoedelik vermoor oor spanning tussen die twee vakbonde by die myn, AMCU en NUM.

Intussen het Thandi Modise, die premier van Noordwes, die moord as wreed en sinneloos beskryf.  “Een dood in dié voortgaande konflik, is een dood te veel, want dit krap weer ou wonde oop,” het Modise gesê.

Altesaam 34 mense, omtrent almal stakende werkers, is in Augustus 2012 dood ná ʼn skermutseling met die polisie weens onluste by die myn. Tien mense, waaronder twee polisebeamptes, is in die voorafgaande week dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.