Val by God’s Window: Pasiënt sterk aan

God's Window, Mpumalanga

God’s Window, Mpumalanga

ʼn Toeris wat 90 meter ver by ʼn uitkykpunt by God’s Window naby Graskop in Mpumalanga geval het, is Maandagmiddag uit die intensiewesorgeenheid by die Nelspruit Medi Clinic na ʼn algemene saal oorgeplaas.

Sipho Lubisi (30), het Saterdagoggend oor ʼn reling by die bekende toeriste-aantreklikheid geklim, sy balans verloor en geval, het ʼn Sapa-korrespondent berig.

“Die pasiënt het wonderbaarlik geen bene gebreek nie. Hy is stabiel en is na ʼn algemene saal oorgeplaas,” het Robyn Baard, woordvoerder vir die Nelspruit Medi Clinic, gesê.

Lubisi het 10 verdiepings (sowat 30m) by ʼn vertikale skeur afgeval, ʼn verdere 40m teen ʼn steil helling afgerol en ʼn verdere 20m daarna geval. Hy is ná ʼn reddingspoging van vier ure gered.

Anton Strydom, voorsitter van die vrywilligersorganisasie Off-Road Rescue Unit Nelspruit, het gesê toe Lubisi opgespoor is, moes hulle hom met toue ophys terwyl paramedici hom stabiliseer.

ʼn ER24-helikopter is ontbied, maar kon die reddingspoging nie bystaan nie weens gure weer.

“Ons het die pasiënt begin ophys, maar dit het bykans twee ure lank geduur, aangesien die terrein baie steil en glad was met klomp los klippe.”

Volgens Baard het Lubisi Sondag ʼn operasie ondergaan om sy kopwond skoon te maak, maar hy sal ten volle herstel. “Hy stel nie daarin belang om met die media te praat nie,” het Baard bygevoeg.

Tilla Coetzer, konsultant van Graskop-toerisme, het gesê die veiligheid van toeriste by God’s Window is gewoonlik nie ʼn probleem nie. “Daar is baie heinings, en as jy nie laf gaan wees en oor ʼn reling klim nie, dan is God’s Window heeltemal veilig,” het Coetzer gesê.

Lees ook:
20-jarige val by God’s Window

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eben ·

Sipho jy kan bly wees jy het nie baie seer gekry … hoop regtig jy lees volgende keer die bordjies wat sê jy moenie stout wees om oor die reelings te klim. Oor die reelings klim is die werk van bobbejaan, maar jy is mos nie een nie?

Hoop jy lees volgende keer voor jy weer probeer snaaks word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.