Valhalla Park-brand: Kaapstad verskaf steeds hulp

Foto: @sayeddhansay op Twitter

Foto: @sayeddhansay op Twitter

Die stad Kaapstad bied steeds ramphulp vir diegene wat dakloos gelaat is ná ʼn brand in die Agstelaan informele nedersetting in Valhalla Park.

Meer as 1 500 mense is Maandag dakloos gelaat nadat ʼn brand vinnig deur die gebied versprei het.

Patricia de Lille, burgemeester, het gesê pogings om die opgradering van die informele nedersetting te bespoedig, is Donderdag deur betogings vertraag. “Die stad Kaapstad is toegewyd om ʼn oplossing te vind vir die kwessies wat gelug is en sal Saterdag weer met die gemeenskap vergader,” het De Lille gesê. “Ek neem kennis van diegene wat op Welwillendheidsdag aan die betogings deelgeneem het en dit is belangrik om dit te benadruk dat die stad alles in sy vermoë doen, met die hulpbronne waaroor die stad beskik, om behoorlike behuisingsgeleenthede te verskaf vir al sy inwoners.”

ʼn Behuisingsdatabasis word gebruik om behuisingsgeleenthede vir enige betrokke groep te verskaf. Die stad werk ook nou saam met die departement van binnelandse sake om identiteitsdokumente wat in die brand vernietig is, te vervang.

Die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap sal die toneel ook binne die volgende paar dae besoek om biometriese verifikasie te doen vir alle mense wat toelaes ontvang.

Die SA Kommuniste Party in die Wes-Kaap het gesê hy was geskok om van die brand te hoor. “Hierdie algemene werkersklastragedie het ongelukkig op die vooraand van Kersfees plaasgevind,” het Khaya Magaxa, provinsiale sekretaris van die SAKP, gesê. Hy blameer die stad Kaapstad en die provinsiale regering van die Wes-Kaap vir die ramp. “Dit is duidelik dat die stad en die provinsiale regering onbevoeg is om die voorkoming en reaksie op soortgelyke rampe te beplan.”

“Sulke tragedies kom jaarliks voor. Hoe kan behoorlike beplanning sommer net oorgesien of eenvoudig as onbelangrik afgemaak word?” Die SAKP eis dat Bonginkosi Madikizela, LUR vir behuising, premier Helen Zille en burgemeester De Lille met onmiddellike effek moet bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

En nou het Marius Fransman van ANC-faam asook die Kaapse Kommuniste baie te sê oor die onvoorsiene brand in Valhalla so asof die DA dit kon verhoed het. Was die brand nie juis die oorsaak van onwettige kragtappery nie ?

Die SAKP en ANC moet liewer in die res van die land gaan let hoe dit daar met die munisipaliteite gaan wat onder hul beheer is – dis met een woord maar ‘n powere saak van swak dienslewering en wanaanwending van fondse. Die DA-beheerde Kaapse munisipaliteit presteer na alles baie goed en het ook die onlangse brand en opruiming baie goed hanteer ten spyte daarvan dat dit vakansie-tyd is en paraatheid en normale aktiwiteite grootliks afgeskaal is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.