Valke-beampte verloor oog in aanval

Twee mans verskyn Vrydag in die Klerksdorp-landdroshof nadat hulle ʼn Valke-beampte met knopkieries en ʼn mes aangeval het. Die beampte het ná die aanval sy oog verloor.

Volgens brig. Thulani Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder van Noordwes, het die voorval op 7 Februarie om 12:45 in Klerksdorp se nywerheidsgebied plaasgevind. Die beampte het in ʼn staatsvoertuig deur die gebied gery toe hy twee mans met knopkieries in die straat sien baklei het. “As ʼn toegewyde beampte het hy sy voertuig gestop en die geveg probeer opbreek. Die mans het toe die beampte met knopkieries en ʼn mes aangeval. Hy het ʼn kopwond en ʼn erge besering aan sy regteroog opgedoen. Sy oog moes verwyder word,” het Ngubane gesê.

Die aanvallers het daarna die beampte se selfoon, ʼn ketel, koffiebeker, geld en broek gesteel en in ʼn rooi Ford XR3 gevlug. Die beampte het homself na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Speurwerk het die polisie Woensdag na die verdagtes gelei. Die twee mans, onderskeidelik 30 en 33 jaar oud, is in Kanana in hegtenis geneem. Die gesteelde goedere is in hul besit gevind. Die polisie het ook op die knopkieries beslag gelê. Die verdagtes word aangekla van poging tot moord en diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.