Valke-kaptein verskyn in hof

Esmeralde Bailey

Polisiekaptein Esmeralda Bailey het Donderdag op agt aanklagtes, insluitend korrupsie, in die Belville Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Kaapstad verskyn.

Bailey is na bewering tydens ʼn polisie-lokval betrap toe sy glo onwettig polisie-uniforms, vuurwapens en ammunisie verkoop het. Sy staar aanklagte van korrupsie, besit van ammunisie en dwelms sowel as vyf aanklagte van dwarsboming van die gereg, in die gesig. Luidens die klagstaat, het die Wes-Kaapse Direktoraat vir Openbare Vervolging (DPP) ʼn polisie-lokval goedgekeur waartydens ʼn polisiebeampte in gewone klere ʼn drasak van R4 500 by haar gekoop het. Die drasak het ʼn polisiepet, reflekteer-baadjie, ʼn paar polisiesokkies, ʼn polisiehemp, twee paar polisiebroeke en ammunisie bevat.

Bailey het voor landdros Amrith Chabillal verskyn wat haar aangesê het om weer op 5 Mei in die hof te verskyn. Die klagtestaat meld nie watter dwelmmiddels tydens ʼn klopjag op 9 Desember verlede jaar by haar huis in Brooklyn in haar besit gevind is nie. Op die aanklagte van dwarsboming van die gereg was sy in besit van verskeie vermiste polisie-dossiere, waaronder een vir ʼn gewapende roof en ʼn ander vir ʼn voertuig-kaping en gewapende roof-saak. Sy het na bewering ook verskeie ongespesifiseerde hofbewyse in haar besit gehad wat by die polisiestasie in Kirstenhof ingedien moes gewees het. Sy het na bewering ook ʼn selfoon in haar besit gehad wat ʼn bewysstuk in ʼn Grassy Park-saak was, op die voorwendsel dat sy inligting van die selfoon sou aflaai.

Bailey is verbind aan die Valke en was tydens haar inhegtenisname in Desember verlede jaar op stresverlof. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.