Valke ondersoek Malema

Die Valke het Sondag bevestig dat hy aanklagte van aanhitsing tot geweld en intimidasie teen die geskorste ANC-jeugligaleier Julius Malema ondersoek na die onlangse onrus by Lonmin se Marikana-myn en by ander myne in Noordwes en Gauteng.

“Ons ondersoek aanklagte wat deur Solidariteit teen Malema aanhangig gemaak is,” het McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, Sondag gesê. “Die vakbond het aanklagte van aanhitsing tot geweld en intimidasie teen hom aanhangig gemaak. Die saak is na ons verwys en ons is tans besig om inligting bymekaar te maak om ons met die ondersoek te help.” Dit was gister ʼn maand nadat die polisie op betogers losgebrand het by Marikana en 34 mynwerkers gesterf het. Malema het twee dae na die geweld mynwerkers by Marikana toegespreek. Hy het onder meer aan die stakende mynwerkers gesê dat president Jacob Zuma en Nathi Mthethwa, minister van polisie, moet bedank.

Solidariteit het sowat twee weke gelede aanklagte van aanhitsing tot geweld en intimidasie teen Malema aanhangig gemaak nadat geweld by Gold One se Modder East-goudmyn by Springs uitgebreek het ná Malema mynwerkers toegespreek het. Die vakbond het sowat ʼn week hierna nog ’n strafregtelike klag van aanstigting tot openbare geweld en intimidasie teen Malema aanhangig gemaak nadat hy mynwerkers by die Goldfields-myn naby Carletonville toegespreek het en ’n beroep op alle mynwerkers gedoen het om met ’n landwye staking te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.