Valke trek polisiebeamptes vas vir beweerde korrupsie

Foto: SAPS, Facebook

Foto: SAPS, Facebook

Drie polisiebeamptes is Donderdag in die Vrystaat deur die Valke se anti-korrupsie-eenheid in hegtenis geneem.

“Sers. Katiso Elcala Kambule van die Hobhouse-polisiestasie is in hegtenis geneem vir dwarsboming van die gereg,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, in ʼn verklaring gesê. “Hy word daarvan beskuldig dat hy ʼn SMS aan ʼn daggahandelaar gestuur het om sakke vol dagga weg te steek voor ʼn klopjag vroeër vanjaar.”

“Konstabel Khehla Andries Tshabalala van die Welkom-polisiestasie is in hegtenis geneem nadat hy glo meganiese onderdele uit die Welkom-polisiemotorhuis gesteel het. Hy het as ʼn werktuigkundige vir die polisie gewerk. Hy het glo voertuigonderdele bespreek om polisievoertuie te herstel, en het dit dan na bewering op straat verkoop.”

Provinsiale hoofadministratiewe klerk Keoagile Maarman van die Bloemfonteinse polisie word van die diefstal van ʼn polisie-voertuig beskuldig. “Sy het glo in Junie 2013 ʼn ongemerkte Volkswagen Jetta gesteel en sonder toestemming na Hopetown in die Noord-Kaap gery. Sy het die voertuig by ʼn plaaslike werktuigkundige gelaat nadat sy in ʼn ongeluk betrokke was,” het Ramaloko gesê. “Toe die werktuigkundige aandring op betaling, het Maarman hom glo aangeraai om met die motor rond te ry as betaling vir die herstelwerk. Die polisie het die motor in Desember 2013 afgetrek en daarop beslag gelê toe hulle ontdek dit is ʼn polisie-voertuig. Maarman het gedink sy kon haar misdryf wegsteek, aangesien sy verantwoordelik was vir die polisievloot in die Vrystaat.”

Die lede het Vrydag afsonderlik in die Hobhouse-landdroshof, Bloemfonteinse landdroshof en die landdroshof in Welkom verskyn. Al drie sake is uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.