Valse kaping: Polisie waarsku teen sosiale netwerke

Die polisie maan die publiek om nie paniekerig te raak en oorreageer as hulle van misdade oor sosiale netwerke, veral Twitter, verneem nie.

Dit volg na ʼn boodskap Sondag op die sosiale netwerk Twitter, met BBM’s en SMS’e versprei is dat ʼn 20-maandeoue baba tydens ʼn kaping in Johannesburg ontvoer is. Dit het ʼn reuse soektog tot gevolg gehad. Meer as 30 polisiebeamptes, gemeenskapslede en opsporingsmaatskappye het nagenoeg drie uur lank gepoog om die “ontvoerde” baba op te spoor.

Volgens luitenant kolonel Lungelo Dlamini, ʼn Gautengse polisiewoordvoerder, was die gerugte vals en word die bewerings en die oorsprong van die boodskap ondersoek, aangesien daar nog nie ʼn saak by die polisie aanhanging gemaak is nie.

“Die persoon wie se voertuigregistrasienommer en naam in die boodskap genoem is, is ondervra en dra geen kennis van die vermeende voorval nie,” het Dlamini Dinsdag gesê. “Om valse inligting oor misdaad uit te stuur is ʼn kriminele misdryf. Aanklagtes van meineed kan teen enigiemand gemaak word wat sulke inligting versprei.”

Die polisie versoek mense wat deur misdaad geraak word om die voorval by hul naaste polisiestasie aan te meld. Hulle kan ook die polisie se inbelsentrum by 10111 kontak, Crime Stop by 0860 01111 of ʼn SMS aan Crime Line stuur by 32211. Die polisie kan ook deur Twitter gekontak word by @SAPoliceService.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.