Van der Vyver se pa gedagvaar

Inge Lotz en Fred van der Vyver Foto: Tia Mysoa-blog

Inge Lotz en Fred van der Vyver Foto: Tia Mysoa-blog

Die pa van die voormalige moordbeskuldigde Fred van der Vyver word deur sy seun se voormalige prokureur vir miljoene rande se uitstaande regskoste gedagvaar, het Beeld Saterdag berig.

Advokaat Dup de Bruyn SC het in Desember 2013 ʼn eis van R4.3 miljoen by die Oos-Kaapse hooggeregshof ingedien.

Die Kaapstadse hooggeregshof het in Augustus 2011 ten gunste van Van der Vyver beslis wat die minister vir R46 miljoen skadevergoeding gedagvaar het nadat hy in 2005 vir die moord op sy meisie, Inge Lotz, in hegtenis geneem is.

Lotz se liggaam is in Maart 2005 op ʼn bank in haar woonstel in Stellenbosch aangetref. Sy het ernstige kopwonde opgedoen nadat sy met ʼn stomp voorwerp geslaan is. Sy het ook messteekwonde in haar bors gehad.

Van der Vyver is drie maande later in verband met die moord in hegtenis geneem en op borgtog van R10 000 vrygelaat. Talle versoeke van Van der Vyver se regspan om die vervolging te laat vaar is van die hand gewys. Hy is uiteindelik, na ʼn hofsaak wat nege maande lank geduur het, deur regter Deon van Zyl en twee assesore onskuldig bevind.

De Bruyn het Van der Vyver in die kriminele en siviele saak verteenwoordig, berig Beeld. De Bruyn het glo in sy eis gesê hy het in September 2005 ʼn mondelingse ooreenkoms met Van der Vyver se pa aangegaan. Een van punte in die ooreenkoms was dat De Bruyn die leiding sou neem in Van der Vyver se verdedigingspan. Hy het glo van Julie 2006 tot November 2007 “voltyds” aan die saak gewerk.

De Bruyn en Van der Vyver se pa het in Januarie 2008 weer ʼn mondelingse ooreenkoms aangegaan dat die totale bedrag vir regskoste R2 668 867.81 beloop. Dié bedrag het in daardie stadium met rente R3 052 509.30 beloop, berig die koerant.

Van der Vyver se pa het aan De Bruyn gesê die enigste oorblywende bates waaroor hy beskik is die familieplaas en ʼn aandeel in ʼn tamatieplaas. De Bruyn het in sy hofdokumente aangevoer dat hy nie wil hê die familie moet hul plaas verloor nie, en hy het tot ʼn uitstel ingestem.

Van der Vyver het De Bruyn verlede jaar glo R900 000 betaal. Op 31 Julie verlede jaar en nadat die R900 000 in ag geneem is, was die uitstaande bedrag verskuldig (rente ingesluit) ’n bedrag van R3 931 231,16 en belasting van R373 641,49. De Bruyn eis dus altesaam R4,3 miljoen. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Die “blinde sambok” het begin slaan! Die vraag is nog steeds, wie het vir Inge vermoor? Iemand het, want sy is dood!

Marlize ·

Ek glo ons almal weet tog maar en meer spesifiek na aanleiding van die Molett-broers se bevindinge en verdere ondersoeke ten aansien van die bewyse wat heel deeglik getoets is, ‘wie’ die moord gepleeg het. Inbreker was dit beslis nie, aangesien niks gesteel of gevat is nie, die foto van haar sleutels en selfoon op die kombuistafel, haar handsak en beursie daarin, niks is weg nie. Penny for your thoughts? Syt ook presies geweet wie sy in laat aangesien ‘op die foto’ (fotos waarna ek verwys is soos geplaas op die Truth4Inge webtuiste) die deur is gedeeltelik glas, die veiligheidshek was oop, syt derhalwe hierdie ‘besoeker’ baie goed geken en was so gemaklik met die besoeker dat sy, skraps geklee en ontspanningsdrag baie gemaklik gevoel het met die persoon se teenwoordigheid. So gemaklik dat sy verder gelê en televisie kyk het. Hierdie moord was werklik haarfyn beplan. Dis regtig verskriklik om mens self te moet voorstel wat presies op daardie dag gebeur het in haar woonstel toe sy vermoor is. Maar danksy die Mollett-broers se blad (Truth4Inge) is dit lankal nie meer ‘n staatsgeheim nie. Al maak die ‘experts’ wat tydens die verloop van die saak en verrigtinge in die hof getuig het dit af as ‘hoorsê’ en ‘n ‘groot grap’, mens kan ook net vir so lank jou rug op die waarheid draai voor dit jou uiteindelik in die gat gaan begin gryp. Geeneen van daardie sogenaamde ‘experts’ wil erken dat hul heel moontlik en heel waarskynlik verkeerd was in hul getuienisse nie en dat die bewyse werklik nie so ‘deeglik’ getoets is as wat voorgeneem was nie. Mens sal ook mos deesdae enigiets doen om jou sogenaamde ‘professionele reputasie’ te beskerm. Ek wens die OVG wil hul ogies oop maak en hierdie saak heropen sodat al die bewyse soos destyds voorgedoen in die hof, weer deeglik na gekyk en getoets kan word. ‘n Jong vrou in die fleur van haar lewe kan mens onmoontlik net binne kwessie van minute op die mees wreedste manier afgemaai word en van vergeet word? Het die mens en meer spesifiek die regstelsel dan so min respek vir ‘n lewe dat Inge Lotz se moord nie die moeite werd is om heropen te word nie? Dat dit regtig nodig moet wees vir ‘n wrede moordenaar om vir al daardie jare tussendeur te midde van ons vry kan loop met ondenkbare bloed aan sy hande? Ou Mevrou Toefy van Old Mutual was die sleutel-getuie ten aansien van Fred se ‘waterdigte’ alibi, wat op die uiteinde bevind is dat sy alibi ‘redelik moontlik waar’ kan wees? Regtig nou? REDELIK MOONTLIK?? Lateraan is genoem dat die kamtige ‘presentation’ waarmee Fred so besig was by die werk en ten aansien waarvan Mevrou Toefy moes getuig, nie eens plaasgevind het op die dag van die moord nie, maar die dag VOOR DIE MOORD. Waarom word al hierdie feite geignoreer? En ook die argument dat Mevrou Toefy op die dag van Inge se moord nie eens op kantoor teenwoordig was nie maar in die winkels rond geloop het, maar sy word geroep as getuie? Ek dink die een rede waarom Mevrou Toefy so senuagtig en huilerig was die dag by die hof voor sy geroep sou word as getuie, is omdat sy geweet het dat sy ‘teen’ die waarheid sou moes getuig, ek dink sys op die uiteinde nie geroep as getuie nie omdat die verdediging gesien het, dit gaan GROOT moeilikheid vir hulle saak beteken, daarom wou die verdeding slegs antwoord: hulle het hul eie redes (oor waarom Toefy toe nou nie getuig het nie) Dis regtig vir my vreemd hoe al die bliks…..s elke liewe dag kan wakker word in ‘n lekker warm bed, koppie koffie in die hand, gemoedsrus en ‘n asempie vars lug kan neem, terwyl hulle steeds swyg oor die waarheid agter die Lotz saak. Iewers moet ‘n lafaard vorendag kan kom en kom getuig van die waarheid en wat hul weet. Dit moet verskriklik wees om te dink as iemand jou kind so moet afmaai in die fleur van sy/haar lewe en selfs na bykans 10 jaar swyg sommige om die waarheid te vertel, en een hou sy lyf Godsman van die Kerk. Maar onthou dat elke aand wanneer jy in jou bed moet klim, klim jy steeds in jou bed met bloed aan jou hande en ‘n herhaling van jou gruwelike daad wat in jou gewete tydig en ontydig afspeel. Ek stel voor dat elkeen wat graag meer wil weet oor die Inge Lotz saak en ondersoek die Mollet-broers se boek getiteld BLOODY LIES gaan aanskaf. Dis die lees werk, ‘n paar stappe nader aan die waarheid en veral vir diegene wat oortuig wil wees van wie die moord werklik gepleeg het, ‘alles in die boek’, veel meer oortuiging het mens nie nodig nie. Eendag sal die moordenaar aan die pen ry, want die Mollett-broers is erger as ou Gerrie Nel aka ‘Bulhond’, Mollett-broers is vir my meer soos Pitbulls, as daardie gedierte eers gebyt het, los hy nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.