Van Eck-moord: “Beskuldigdes het my beroof”

Die vermoorde Michael van Eck.

Die ma van die vermoorde Michael van Eck (23), het Woensdag in die rondgaande hof op Virginia gesê sy is “beroof” deur haar seun se vermeende moordenaars.

Henriëtte van Eck het aan regter Albert Kruger gesê sy is “beroof van haar kinders en kleinkinders” deurdat “hulle verander het in wie hulle is en wat hulle voel”. Van Eck is ʼn staatsgetuie en getuig ter verswaring van vonnis vir Chané van Heerden, een van haar seun se vermeende moordenaars. Van Heerden (20) is vroeër daaraan skuldig bevind dat sy Van Eck beroof en grusaam vermoor het in ʼn begraafplaas in Welkom in April verlede jaar. Haar medebeskuldigde, Maartens van der Merwe, word afsonderlik verhoor. Sy saak is vroeër tot Februarie uitgestel omdat hy weer vir sielkundige waarneming gestuur gaan word. Hy is as jong seun tot skisofreen verklaar. Van Eck het aan die hof gesê haar hele gesin, insluitend haar drie dogters en hulle gesinne, kry steeds swaar na die moord op haar seun en hulle broer. Sy het twee briewe aan die hof voorgelees wat deur twee van haar dogters geskryf is na die moord. Sy sê haar kleinkinders kry ook baie swaar en het spesiale aandag nodig. Van Eck het getuig dat die moord op haar seun haar soos ʼn “hamerslag” getref het en dat dit haar lewe en verhoudings vernietig het. Van Eck sê talle vrae rondom haar seun se dood is steeds onbeantwoord. Sy het die hof gevra om Van Heerden uit die samelewing te verwyder en seker te maak dat sy nooit weer die buitekant van ʼn tronk sien nie. Die staat sal na verwagting nog een getuie roep om te getuig ter verswaring van vonnis. Die saak is tot Vrydag uitgestel.

Van Heerden en Van Eck het mekaar glo op 31 Maart 2010 op ʼn gesels-webwerf ontmoet. Van Heerden het Van Eck glo onder valse voorwendsel na die begrafplaas gelok waar sy en Van der Merwe hom glo oorval en verskeie kere met messe gesteek het. Hulle het daarna glo Van Eck lyk opgesny en sy kop, nek, linkervoet en regterarm gevat en met sy se motor na hul huis gery. Daar het hulle glo die vel, oë en ore van Van Eck se kop verwyder en dit in hul vrieskas geplaas terwyl die res van die liggaamsdele in hul tuin begrawe is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.