‘Vandale’ van Zuma-skildery ken mekaar glo nie

Die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Brett Murray se omstrede kunswerk van president Jacob Zuma gevandaliseer het, sal vandag in die Hillbrow landdroshof verskyn.

Die twee mans is laat Dinsdagaand op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. ʼn Derde persoon wat in hegtenis geneem is nadat hy met ʼn spuitkannetjie op ʼn muur buite die galery geverf het, is ook op borgtog van R1 000 vrygelaat en sal saam met die ander twee mans in die hof verskyn. Hofverrigtinge by die hooggeregshof in Johannesburg om die skildery van die Goodman-galery se muur en van City Press se webtuiste verwyder het pas geëindig toe nuus van die vandalisme bekend geraak het. Een van die mans het ʼn rooi kruis oor Zuma se geslagsdeel en kop geverf voor ʼn ander man die skildery met swart verf gesmeer het. Die man wat die rooi kruise geverf het, is geidentifiseer as Barend la Grange. Laasgenoemde is intussen geïdentifiseer as Lowie Mabokela (25). Sy regsverteenwoordiger, Krish Naidoo, sê sy kliënt is ʼn taxibestuurder van Limpopo wat na Johannesburg gereis het om die kunswerk te sien. Hy sê Mabokela en die man wat die rooi kruise geverf het ken nie mekaar nie. Naidoo sê hulle was net toevallig op dieselfde tyd daar. Hy sê sy kliënt het intussen ʼn saak van aanranding teen die galery se veiligheidswag aanhangig gemaak.

Zuma en die ANC se aansoek om die skildery te verwyder is intussen tot Donderdag uitgestel wanneer dit deur ʼn volbank (drie) regters aangehoor sal word. Zuma se kinders sowel as Murray het toestemming gekry om deel te word van die hofsaak. Die Goodman Galery is intussen tydelik vir die publiek gesluit. Die Zuma-skildery is na ʼn plek van veiligheid geneem hangende die uitkoms van die hofsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.