Vangwa-sleep: Kinders sterf in ongeluk met taxi-man

Mido Macia, die Mosambiekse taxibestuurder wat voorverlede week in polisie-aanhouding dood is, was glo dae voor sy dood in ʼn ongeluk betrokke waarin vyf kinders dood is.

Nege polisiebeamptes word van die moord op Macia aangekla nadat hy glo vasgeboei agter aan ’n polisievoertuig deur die strate van Daveyton gesleep is en later dood is. Die regsverteenwoordiger van een van die polisiebeamptes het Maandag aan die Benoni-landdroshof gesê dat ʼn saak van strafbare manslag teen Macia aanhangig gemaak is na die ongeluk waarin die vyf kinders dood is. Die hof het ook gehoor dat een van die polisiebeamptes vroeër van regsverydeling aangekla is en dat hy tans op borg uit is in die saak. December Mthimunye, die staatsaanklaer, het vroeër aan die hof gesê dat Macia weens ʼn suurstoftekort dood is. Hy het ook verskeie inwendige en uitwendige beserings gehad. Macia het skeurwonde aan die agterkant van sy kop, sy skedel en kakebeen gehad. Hy het ook beserings op sy lippe, voorkop, wange, neus, arms en rug gehad. Hy het uitermatige bloeding op sy regterlong gehad asook om sy hart. “Daar was ook beserings op sy privaatdele,” het Mthimunye gesê.

Die nege beskuldigdes is Motome Walter Ramatlou (37), Michak Malele (46), Thamsanqa Ncema (35), Percy Mnisi (26), Bongumusa Mdluli (25), Sipho Ngobeni (30), Lungisa Ewababa (31), Bongani Kolisi (27) en Linda Sololo (56). Hulle borgaansoek is tot Dinsdag uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.