Vangwa-sleep: Man dood weens suurstoftekort

Die nadoodse ondersoek van die Mosambiekse taxibestuurder wat dood is nadat hy agter ʼn polisievoertuig aangesleep is, het bevind dat die man weens ʼn gebrek aan suurstof dood is.

Staatsanklaer December Mthimunye het Maandag die bevindinge in die Benoni-landdroshof voorgelees waar nege beamptes verskyn vir die tweede dag van hul borgtogaansoekverhoor.

Volgens die verslag het die taxibestuurder, Mido Macia, ook verskeie inwendige en uitwendige beserings gehad. Macia het skeurwonde aan die agterkant van sy kop, sy skedel  en kakebeen gehad. Hy het ook beserings op sy lippe, voorkop, wange, neus, arms en rug gehad. Hy het uitermatige bloeding op sy regterlong gehad asook om sy hart. “Daar was ook beserings op sy privaatdele,” het Mthimunye gesê.

“Die beserings op Macia se voorarms dui daarop dat hy homself teen sy aanvallers probeer beskerm het .”

Macia is 26 Maart dood in ʼn plas bloed by die Daveyton-polisiestasie gevind. Hy het nie ʼn broek aangehad nie. Die polisiebeamptes wat vir sy moord in hegtenis geneem is, is Thamsanqa Ncema (35), Meshack Malele (45), Motome Walter Ramatlou (37), Percy Mnisi (26), Bongumusa Mdluli (25), Sipho Ngobeni (30), Lungisa Ewababa (31), Bongani Kolisi (27) en Linda Sololo (56).

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.