Vangwa-sleep: Polisie bly in aanhouding

Die saak teen agt polisiebeamptes wat verdink word van die moord op ‘n Mosambiekse taxibestuurder, is Maandag deur die Benoni-landdroshof tot Vrydag uitgestel.

Landdros Sam Makamu het ʼn versoek van die aanklaer toegestaan dat die beamptes nie identifiseer moet word nie. “Ons wil ʼn uitkenparade hou en dus moet geen foto’s van die verdagtes geneem word of hul name bekend gemaak word nie, omdat dit die uitkoms van die saak kan belemmer,” het aanklaer December Mthimunye versoek.

Die uitkenparade is vir Donderdag geskeduleer. Die agt beamptes behoort Vrydag vir borgtog aansoek te doen.

Makamu het ook toestemming gegee dat die verdagtes by ʼn onbekende polisiestasie aangehou kan word vir hul eie veiligheid. Die beamptes se regspan voer aan dat die beamptes nie by die Modderbee-tronk aangehou kan word nie, aangesien baie verdagtes wat hulle in hegtenis geneem het, daar aangehou word.

Die twee adjudant-offisiere en ses konstabels is Vrydagmiddag in hegtenis geneem en word van moord aangekla. Mido Macia (27), die taxibestuurder, is Dinsdagaand agteraan ’n polisievangwa vasgemaak en gesleep ná ʼn onderonsie met die polisie. Hy is later in polisie-aanhouding dood. ʼn Video van die voorval is verlede week op sosiale netwerke versprei en het só ’n opskudding veroorsaak dat president Jacob Zuma en Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, daarop reageer het.

Sien die video hier. WAARSKUWING: Die video kan sensitiewe lesers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.