Vangwa-sleep: Slagoffer se gedenkdiens gehou

Die vrou van oud-president Nelson Mandela was onder die roubeklaers wat Woensdag ʼn gedenkdiens vir Mido Macia (27), die Mosambiekse taxibestuurder wat dood is nadat hy agter ʼn polisievangwa aangesleep is, bygewoon het.

Honderde mense het by ʼn stadion in die Daveyton informele nedersetting naby Benoni saamgedrom om aan hom eer te betoon. Graca Machel, Mandela se vrou, is die weduwee van die wyle Mosambiekse president Samora Machel, wat in 1986 in ʼn vliegtuigongeluk dood is. Sy het die polisie se optrede gekritiseer en gesê polisiebeamptes is veronderstel om Suid-Afrika teen geweldmisdaad te beskerm.

“As mense die polisie so sien optree, word dit al hoe meer duidelik dat ons groot probleme het om uit te sorteer,” het sy gesê. Die ANC het die gedenkdiens gereël.

Die saak teen agt polisiebeamptes wat van Macia se dood verdink word, duur Vrydag in die Benoni-landdroshof voort. ʼn Uitkenparade is vir Donderdag geskeduleer.

Twee adjudant-offisiere en ses konstabels is verlede Vrydagmiddag in hegtenis geneem en word van moord aangekla. Macia is verlede Dinsdag agter aan ’n polisievangwa vasgemaak en gesleep ná ʼn onderonsie met die polisie. Hy is later in polisie-aanhouding dood. ʼn Video van die voorval is verlede week op sosiale netwerke versprei en het só ’n opskudding veroorsaak dat president Jacob Zuma en Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, daarop reageer het.

Sien die video hier. WAARSKUWING: Die video kan sensitiewe lesers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.