Bokse met varkkoppe is na Israel se ambassade in Rome en die stad se sinagoge gestuur.
Die pakkie wat na die ambassade gestuur is, is deur die polisie onderskep nadat soortgelyke pakkies na die sinagoge en die Joodse Museum van Rome gestuur is, het die Italiaanse media Saterdag berig.
“Diegene wat die Joodse gemeenskap beledig, is ʼn skande vir Rome,” het Ignazio Marino, burgemeester van Rome, in ʼn twiet gesê. “Ons verwerp die intimidasie.”
Die sinagoge het die pakkie Vrydag ontvang nadat personeellede ʼn anonieme telefoniese bomdreigement ontvang het. Polisiebeamptes is ontbied en het op die varkkop, wat moontlik by ʼn slaghuis aangeskaf is, afgekom.
Die polisie analiseer tans vingerafdrukke en DNS-spore wat op die bokse aangetref is. Die bokse was met kleefband toegeplak en deur dieselfde posmaatskappy afgelewer.
Dié dreigemente kom ʼn paar dae voor die internasionale herdenkingsdag op 27 Januarie van die slagoffers wat tydens die Joodse menseslagting omgekom het. -SAPA