Varsity-beker: Tuks verpletter Maties

Varsitybeker-kapteins

Die toeskouers het nie ‘n wegholsege verwag nie, maar Tuks het welverdiend die Varsitybeker-kroon behou toe hulle Maties in Stellenbosch met 44-5 afgeransel het.

Tukkies het totale rugby gespeel en hul kliniese en dringende spel was hopeloos te veel vir ‘n Maties-span wat net so flou in die eindstryd gelyk het soos in die halfeindstryd teen NMMU. Maties het nooit gelyk asof hulle die volgende rat kon kry nie en het veral op verdediging harde bene gekou.

Tukkies het daarenteen gelyk soos die span wat die Universiteit van Johannesbrug in die ander halfeindstryd ‘n behoorlike loesing gegee het.

Tuks het vroeg in die wedstryd met ywer weggespring en ondernemingsgees getoon deur die bal by elke geleentheid in die agterlyn af te stuur. Die Tuks-skrumskakel, Danie Faasen, het ná sowat 15 minute se spel oor Maties se doellyn gebars om sy span se rekening te open. Handre Pollard het drie punte bygevoeg.

Die Danie Craven-stadion was stil toe die besoekers se losskakel, Willie du Plessis, kort daarna soos ‘n mes deur die Maties-verdedigers gesny het om te gaan druk. Die vervyfskop het dit 16-0 gemaak. Die Tuks-kaptein het die skrif teen die muur geskryf toe hy kort voor rustyd oorgedryf het om die halftydtelling 24-0 te maak.

Tukkies het na ‘n selfs hoër rat oorgeskakel ná halftyd en die regtervleuel Courtnall Skosan het binne die eerste tien minute gedruk. Pollard het die drie punte bygevoeg en mens het toe terdeë besef dis nou waarlik neusie verby.

Maties se enigste punte is deur die vleuel Clearance Khumalo aangeteken toe hy ‘n net-net in die hoekie oorgeduik het.

Pollard het nog ‘n strafskop oorgeklits en die Tuks- en Blou Bul-heelagter Clayton Blommetjies het sy eie twee punte bygevoeg met ‘n astrante skepskop ondanks drie verdedigers wat op hom afgepeil het.

Nadat Dok Craven sekerlik al tien keer in sy graf omgedraai het en baie van die toeskouers reeds huiswaarts begin keer het, het die blitsige Pretorianers se linkervleuel, Vainon Willis, die bal op die halflyn onderskep en rieme neergelê om onder die pale te druk.

Die 2013 Varsitybeker is stellig verby, maar hierdie toernooi wys watter entoesiasme daar bestaan vir rugby op universiteitsvlak. Tuks het dit nou reeds twee keer gewen, Maties drie keer en Ikeys een keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.