Vasgekeer in Antarktika: Reddingspoging duur voort

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

‘n Video van die Chinese helikopter wat naby aan die skip land, volg onderaan die berig. Passasiers wat al langer as ʼn week lank op ʼn skip in Antarktika in die ys vasgekeer is, sal na verwagting Donderdag met ʼn helikopter na ʼn nabygeleë ysbreker geneem word.

Die 74 mense aan boord die Russiese MV Akademik Shokalskiy is al sedert 24 Desember gestrand.

Die helikopter-reddingspoging is die laaste opsie nadat ysbrekers van Frankryk, China en Australië nie deur die 20 km-ysblok kon breek nie.

Die maritieme veiligheidsowerheid in Australië (Amsa) wat die reddingspoging koördineer, het gesê weerstoestande het intussen verbeter en die helikopter kan nou naby aan die skip land.

Die passasiers sal in groepe van 12 met ʼn helikopter, wat aan die Chinese ysbreker, Xue Long behoort, vervoer word. Die helikopter sal die passasiers eers na die Chinese ysbreker, Snow Dragon, neem. Hulle sal dan met ‘n boot van die Snow Dragon na die Aurora Australis vervoer word.

Amsa sê die eerste vyf 45 minuut lange helikopterritte is vir die passasiers en dan sal die bagasie en toerusting verwyder word.

Die Aurora is minder as 4 km ver van die Snow Dragon af.

“Baie dankie aan die ysbrekers van Australië, China en Frankryk vir al hul harde werk!” het prof. Chris Turney, leier van die ekspedisie, op Twitter gesê.

Volgens Amsa sal die 22 bemanningslede aan boord bly.

Altesaam 26 van die 52 passasiers is toeriste wat ʼn kaartjie gekoop het om die ekspedisie, wat Douglas Mawson, ʼn ontdekkingsreisiger van Australië, se reis te volg. Mawson het die reis 100 jaar gelede onderneem.

Die skip het verlede maand uit Nieu-Seeland vertrek en sou in Januarie terugkeer. Sy was ongeveer 2 km van die oop see af weg toe sy in die ys vasgekeer is.

Lees ook:
Video: Al singend die nuwe jaar in, al sit hulle steeds vas in Antarktika
Ysbreker kon nie by Antarktika-skip uitkom nie
Antarktika-skip dalk binnekort bevry
Video: Toeriste vasgeys by Antarktika

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.