Vavi kap die ANC

Zwelinzima Vavi

Zwelinzima Vavi

Zwelinzima Vavi, geskorste uitvoerende hoof van Cosatu, het Woensdag gesê die ANC-regering het nie werkloosheid, armoede of ongelykheid laat afneem nie.

“Dit is duidelik dat die regering ná Polokwane aansienlik gefaal het om die krisis van werkloosheid om te draai,” het Vavi in ‘n toespraak by die gedenkdiens vir voormalige Numsa-president, Mthuthuzeli Tom, gesê.

Die diens het by Numse se spesiale nasionale kongres by die Birchwood-hotel in Boksburg plaasgevind.

“Dit is ook duidelik dat die regering dit nie reggekry het om aan een van die basiese beloftes uit die ANC se 52ste konferensie te voldoen nie. Die ANC het onderneem om behoorlike werk te skep. Die ANC moet van rigting verander en bewys dat hy verbind is tot radikale ekonomiese transformasie,” het Vavi gesê.

Vavi sê Tom sou geskok wees oor leiers wat die belange van lede laat vaar het om enigiemand te vervolg wat hul noue belange bedreig. Hy het bygevoeg dat Tom besorg sou gewees het dat sommige werkers hul rug gekeer het op vakbonde en nou hul eie inisiatief gebruik om hulself te verteenwoordig, wat tot reuse onstabiliteit in talle werksplekke lei.

Vavi sê egter daar was sedert die begin van demokrasie ook positiewe prestasie. “Werkers geniet ‘n reeks grondwetlike waarborge soos die reg tot behoorlike arbeidspraktyk, om vakbonde te stig en daarby aan te sluit, om te betoog en die reg tot kollektiewe bedinging.”

Hy het gesê meer mense het nou elektrisiteit, sanitasie-dienste, behuising en ander maatskaplike behoeftes word aangespreek, en ondanks die probleme met die gehalte van diens en die tweevlak-onderwysstelsel, het toegang tot onderwys ook toegeneem.

Vavi sê landbou grondeienaarskap het ook gekonsentreerd en kolonialisties gebly. “En om dinge te vererger, word dit beraam dat meer as 70% van herverdeelde grond onproduktief word ná die hervormingsproses, weens die afwesigheid van ondersteuning nadat herverdeling plaasgevind het.”

“Dit is geen wonder dat Suid-Afrika nie eers van rassisme af kan wegkom nie,” het hy bygevoeg.

Volgens Vavi vererger korrupsie die probleme. “Met korrupsie steel die rykes van die armes. Korrupsie vier hoogty.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Conrad ·

Toemaar Vavi, volgende jaar gee hulle weer vir jou n T-shirt en n bord kos, dan stem jy weer vir hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.