Veertienjarige red kind van waterdood

Reghard Vorster. (Foto: Verksaf)

Reghard Vorster (14) van Middelburg in Mpumalanga word uit talle oorde as ʼn brawe held beskryf nadat hy ʼn 10-jarige meisie van verdrinking gered het.

Tydens ʼn gesinsvakansie by die Ou Skip-kampterrein in Melkbosstrand, wat gepaardgegaan het met Reghard en sy broer Ricardo se Gimnastiek Suid-Afrika- nasionale kompetisie, het Reghard vir oulaas gaan swem voor die gesin terug huis toe sou vertrek.

By die terrein se swembad het Reghard die jong meisie gewaar, waar sy handjie vir handjie teen die swembad se rand afbeweeg het. Haar nefie was ook in die swembad. Reghard het intussen na ʼn kleiner swembad beweeg, maar toe hy terugkeer, het hy die meisie op die bodem van die 2 m diep swembad gesien.

“Hy het eers gedink sy speel en kyk dalk hoe lank sy haar asem kan ophou,” het André Vorster, Reghard se pa, verduidelik. Die dogtertjie het egter nie weer opgekom vir asem nie. Dit is toe dat Reghard ingeduik en die meisie uit die swembad getrek het. “Reghard was teen dié tyd heeltemal alleen by die swembad. Hy het met haar na die naaste trappe geswem en deur sy bene om die trapreling te haak, kon hy haar uit die water lig.”

Wat dit meer merkwaardig maak, is dat Reghard kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op die meisie uitgevoer het, wat waarskynlik haar lewe gered het.

Volgens wat Vorster kan aflei, was die meisie saam met haar ouers by die terrein as dagbesoekers van Worcester af, maar die ouers was elders op die terrein. “Haar ouers het haar vermaan om nie na die swembad te gaan nie.” Maroela Media kon nie die naam van die meisie bevestig nie, maar verneem dat sy reeds die volgende dag uit die Wesfleur-hospitaal in Atlantis ontslaan is. Sy is daardie aand vir waarneming opgeneem.

“Dit is besonders wat Reghard gedoen het, hy is beslis ʼn held,” sê Andrew Ingram, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se hoof van verdrinkingsvoorkoming.

Ingram sê dat dit nie net fisieke krag vereis om ʼn bewustelose persoon van die bodem van ʼn swembad te trek nie, maar ook uitermatige breinkrag. “Dit is een van die mees spanningsvolle situasies waarin jy kan verkeer. Reghard se optrede is ook ʼn ongelooflike weerspieëling van sy ouers.”

André verduidelik dat Reghard tydens die Landsdiens se nasionale kamp geleer het hoe om kardiopulmonêre resussitasie uit te voer. “In Mpumalanga is Landsdiens ʼn groot ding en ook ʼn skole-aktiwiteit. ʼn Mens kan al die jaar voor graad R met Landsdiens begin en Reghard neem al die afgelope tien jaar deel.” Reghard het ook by die kamp ʼn junior Springbok-toekenning ontvang.

Die meisie word deur noodwerkers omgesien. (Foto: Verskaf)

Hy reken die meisie was vyf minute lank onder water voor Reghard haar gered het. Die meisie was bewusteloos. Ná die eerste paar kompressies het die meisie water opgegooi, waarna Reghard haar op haar sy gedraai het. Haar asemhaling was vlak en sy het weer water opgegooi. Die meisie het eers 45 minute ná die voorval haar bewussyn herwin.

Intussen het nog ʼn kind van die kampterrein op die toneel afgekom. Dié kind het by gaste van ʼn troue op die terrein gaan hulp soek.

Een van die gaste op die troue was dr. Heike Geduld, die hoof van noodmedikasie by die Universiteit Stellenbosch. “Ons het haar gestabiliseer en ʼn ambulans ontbied. Ek het seker gemaak sy aspireer nie. Dit was net die regte tyd, op die regte plek. Reghard was braaf, want baie mense wat resussitasie leer, pas dit nie altyd toe nie omdat hulle onseker is. Baie mense dink, ‘Ek is nie ʼn dokter of ʼn paramedikus nie, so ek gaan dit nie reg toepas nie’. Hy het met sy hele hart ingespring, sonder enige leiding en was glad nie bang om dit te doen nie. Dit maak my bly dat daar jong mense is wat rêrig as held kan optree en reageer sonder om te dink.”

Geduld het namens die Universiteit Stellenbosch aan Reghard ʼn brief gestuur waarin hulle sy heldedaad loof. “Ons wil jou loof vir jou bereidwilligheid om die jong meisie te gehelp het. Jy het beslis haar lewe gered. Ek is positief dat jou braafheid en meegevoel vir ander jou ʼn blink toekoms sal besorg. Doen so voort,” lui die brief.

Bewusmaking is uiters belangrik

Ingram sê dit is uiters belangrik dat elke kind geleer word hoe om kardiopulmonêre resussitasie uit te voer omdat dit talle lewens kan red. “As elke kind dit nou leer, sal ons ʼn toekomstige volwasse generasie hê wat weet hoe om dit uit te voer.”

Hy sê verder dat die NSRI ʼn program het waarin dit basiese waterveiligheid vir kinders in laerskole oor die hele land leer en sedert 2005 het 2,5 miljoen leerders al die program deurgaan.

Dit is egter nie genoeg nie, maan hy. “Kinders moet steeds geleer word om te swem. In die Wes-Kaap gebeur 22% van verdrinkings in private swembaddens. Dit kan voorkom word.”

Hy sê dat elke huiseienaar met ʼn swembad meganismes gereed moet hê om verdrinkings te verhoed. “ʼn Heining om die swembad wat ʼn ordentlike knip op die hek het en ʼn net of skerm oor die swembad is waar ʼn mens kan begin, maar kinders moet nooit, ooit alleen by ʼn swembad gelaat word nie, al kan hulle swem.”

Ingram sê dat ouers hulle kinders te alle tye by ʼn swembad moet dophou en nie afleidings soos sosiale media op hulle fone moet gebruik nie. “Verdrinking is ʼn ding wat jy sien, jy hoor dit nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

MM ·

Goed gedaan Reghard. Lekker om bietjie brokkie goeie nuus te lees. Jy is n ware held. Aan die meisie se ouers. Jul kan jul sterre dank! kinders luister mos nie as jy se moenie swembad toe gaan nie! Jy moet kyk ;-)

Maria ·

Reghard ! tannie baie baie trots op jou! en baie dankie vir jou dapper raad en omgee.\ hou so aan.

Ant ·

Awesome, ons is almal trots op jou seun. Ouers steek maar bors uit.

Johan ·

se ek ook sit maar n goeie klompie biltong of wat ook al sy gunsteling is daarby

Jakes ·

Die seun moet n medalje kry, sy hantering van die noodgeval was puik. Baie belangrik dat skoolkinders moet leer om noodbehandeling toe te pas. Ons is trots op jou.

Henry ·

Welgedaan jongman jy verdien n medalje, ons is baie trots op jou.

Sandra ·

Sjoe, ek kry nou hoendervleis! Welgedaan. Mag jy van krag to krag gaan. Ek hoop regtig dat hy erkennimg vir sy heldedaad Sal ontvang. Voorwaar ‘n voorbeeld lvir volwassenes en kinders.

Marieks ·

Sjoe kry ek nou sommer ‘n bewoendheid oor my. Pragtige storie. Loof die Here want Hy is goed. Aan Sy liefde is daa geen einde nie!

Petro ·

Awesome jong man… Jy sal ver kom in die lewe. Sjoe, jou ouers moet so trots wees.

DI ·

Rerig baie trots op jou! Jou ouers het jou goed groot gemaak. Bly so ‘n wonderlike voorbeeldige seun.

Hanlie ·

Welgedaan Reghardt, dit was ‘n besonderse en brawe daad van jou. So lekker om sulke lekker positiewe nuus te lees na alles wat in hierdie land van ons aangaan. Baie geluk Mamma en Pappa, julle mag maar ‘n glasie klink op so ‘n besonderse seun.

Hanlie ·

Baie geluk Reghardt met jou heldedaad wat jy verrig het. Jy is ‘n ware hero. So lekker om sulke lekker positiewe nuus te lees as jy hoor van alles wat in ons land aangaan. Baie geluk Mamma en Pappa, julle kan maar ‘n glasie klink op so ‘n besonderse seun.

smurfie ·

Ai ou Chrissie, daars maar altyd een wat negatiewe kommentaar lewer en die goeie miskyk.
Lees tog weer die berig, om n antwoord op jou vraag te kry.

DVL ·

Jy is reg Chrissie waar was die ouers, besig met hulle eie goed ver van die kind af geen toesig nie. @Smurfie as ‘n ouer is dit jou plig om seker te maak jou kind is veilig dis nie iemand anders se verantwoordelikheid nie. Die outjie is ‘n held maar die is weereens iets wat kon vermy gewees het. Maak nie saak hoe oud ‘n kind is nie jy moet na hulle kyk veral as dit ‘n 10 jarige is wat nie kan swem nie en dit is ook nie die nefie se skuld of verandwoordelikheid gewees nie.

Lizbey ·

Wel gedaan, Regardt. Ek ken al 5 vd gesin en dis ń ware weerspieëling van hulle durf en lewensmoed. Dit is hoe elkeen v hulle sou optree. Pragtige, Godvresende mense. Trots op jou, Regardt. Jy is ń ware held en jou ouers het jou mooi grootgemaak………. ( Ek het ook vir Ricardo en Reinhardt tydens Landsdiens leer ken, al is dit ń jaar gelede al. )

Ep ·

Soe Reghard jy darem n Yster Glo en weet jou iuers moet uiters trots op jou wees en ook met rede ….. wel ou seun ek wens ek kon jou n groot Spur gammie met n milkshakes geoffer get jy verdien dit

Opvallend dat ek nie lees waar die meisie se ouers hul dank uitspreek teenoor die jong man Terloops wat soek die meisiedaar in die eerste plek en waar die nefie toe? Seker fesit en brannas deur werk en kind in haar eie genade oorlaat met n ligte waarskuwing moenie naby swembad kom …. sulke ouers moet kind in oë hê of daardie dik allies lig en loop kyk waar kinders is

Thelma ·

Wat ‘n ongelooflike daad, mooi so jong man, jy het iets wat baie na smag.

Berdéhan Brand ·

Mooi Reghard. (Ek sien daarna uit om die seker baie dankbare en verligte ouers se dankie teenoor jou op Maroela Media te lees.)

Leser ·

Wow, ek kry hoendervleis. Jy is sowaar ‘n SUPERHERO Reghard. Jou naam se dit alles….REGHARD(T)…jou hart is reg!!! Baie trots op jou jong man!

Erica ·

Welgedaan Reghard!!! Jy kan ongelooflik trots wees op jouself.

koos ·

Fantasties Reghard. Jou onselfsugtigheid en moed is ‘n voorbeeld vir ons almal.

Wonderlik ·

Welgedaan boeta, jy is ‘n ware held. Mag die Here jou seen.

Miss Julia ·

Welgedaan seun ek kry skoons trane in my oe so jonk en tog so volwasse en dapper. God seen

AH ·

Baie trots op jou Reghard! Jy is ‘n ware held! Jy gee my hoop vir die jeug van vandag en die leiers van die toekoms!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.