Veiligheid opgeskerp by Malema-verhoor

Julius Malema tydens sy vorige hofverskyning op 18 November. Foto: Chester Makana / SAPA

Julius Malema tydens sy vorige hofverskyning op 18 November. Foto: Chester Makana / SAPA

Die polisie is op hoë gereedheid geplaas vir Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV), se hofverskyning Donderdag in die rondgaandehof in Polokwane. Ses strate rondom die hof is afgesper en gesluit vir verkeer.

Die SAUK berig Malema-ondersteuners het Woensdagaand ʼn nagwaak vir Malema gehou waartydens hulle ANC-T-hemde, met president Jacob Zuma se gesig daarop, gebrand het. Hulle het ook neerhalende liedjies oor Zuma gesing.

Malema sal na verwagting vandag hoor of die aanklagte van bedrog, afpersing en geldwassery teen hom sal voortgaan of teruggetrek word.

Malema word daarvan beskuldig dat hy nagenoeg R4 miljoen gewin het uit korrupte aktiwiteite. Hy is tans uit op borgtog van R10 000 en staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en afpersing. Sy medebeskuldigdes is voormalige sakevennote Kagisho Dichabe, Lesiba Gwangwa, Helen Moreroa en Makgetsi Manthata. Hulle is almal vroeër op borgtog van R40 000 elk vrygelaat.

Sy regspan voer aan dat die staat nie daarin geslaag het om hom met die beweerde misdrywe te verbind nie. Indien die saak teen Malema voortgaan, sal hy volgende jaar saam met ‘n medebeskuldigde verhoor word. Die verhoordatum is van 30 September tot 31 Oktober bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.