Veiligheid opgeskerp vir kiesersregistrasie-naweek

IEC logoVeiligheid sal opgeskerp word dié naweek om te verseker dat die kiesersregistrasieproses glad verloop, het die nasionale polisie Vrydag gesê.

“Ons is gereed om teen enige gebeurlikhede op te tree,” het lt.genl. Elias Mawela, voorsitter van die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensie-struktuur (Natjoints), gesê.

Natjoints bestaan uit die polisie, weermag en verskeie regeringsdepartemente.

Stemgeregtigdes kan die naweek tussen 08:00 en 17:00 een van 22 263 registrasiepunte landwyd besoek om te verseker dat hulle in staat is om in volgende jaar se algemene verkiesing te stem.

“Dit is die taak van die gesamentlike veiligheidsmagte om te verseker dat hierdie proses in ‘n rustige omgewing, vry van intimidasie en geweld plaasvind,” het hy gesê.

Hy het gesê dat gesamentlike operasionele sentrums op nasionale en provinsiale vlakke opgestel is wat voortdurend die registrasiepunte noukeurig sal monitor.

In die verlede het die gesamentlike veiligheidmagte seker gemaak dat misdadigers tydens die 2009- en 2011-verkiesings nie ongestraf gebly het nie. “Tydens die verkiesing in 2009 is 496 verdagtes regoor die land in hegtenis geneem weens verkiesingsverwante misdade. ʼn Totaal van 68 mense is skuldig bevind aan misdade wat strek van intimidasie tot moord. In een voorval is ʼn verdagte tot lewenslange tronkstraf plus 15 jaar gevonnis vir ʼn verkiesingsverwante moord wat in Umkomaas, KwaZulu-Natal, in Januarie 2009 plaasgevind het.”

Hy het gesê almal wat wil stem moet dit vrylik kan doen sonder vrees van geweld.

Mense wat reeds vir vorige verkiesings geregistreer het, kan hul ID-nommer na 32810 stuur om te sien waar hulle geregistreer is en mag stem.

Mense wat wil registreer, benodig hul groen strepieskode ID-boekie.

Vir meer inligting en waar om te registreer besoek www.elections.org.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.