Veiligheidsmaatskappy van miljoene rande beroof

ʼn Bende rowers het Dinsdagoggend miljoene rande kontant gebuit by die veiligheidsmaatskappy G4S se Brackenfell-depot in die Wes-Kaap.

Volgens ʼn woordvoerder van die Valke kol McIntosh Polela het ʼn wit Ford Bantam bakkie by die perseel aangekom met ʼn bruin boks en beweer hulle is daar om parte af te lewer. Toe een van die veiligheidsmaatskappy se personeel die buitenste hek oopmaak het een van die verdagtes ʼn vuurwapen uitgeruk en hom gedwing om die ander hek ook oop te maak. ʼn Wit Toyota Quantum bussie met sewe of agt vermeende rowers het die perseel binnegery. Die vermeende rowers het maskers en handskoene aangehad en was gewapen met handgewere. Polela sê die mans is na die CCTV-beheerkamer waar hulle die stelsel probeer afskakel het. Hulle het die kluis oopgebreek en sakke kontant in die bussie begin inlaai. Die verdagtes het ook een van die werknemers se privaat voertuie gesteel om nog kontant in te laai.

Die agt werknemers wat ten tyde van die rooftog aan diens was is van hulle selfone beroof. Hulle is ook aangerand en vasgebind. Twee van die werknemers kon daarin slaag om los te kom nadat die rowers gevlug het en het die paniekknoppie gedruk. Die bakkie wat tydens die rooftog gebruik is, is later saam met twee sakke kontant in ʼn oop veld naby die toneel gevind. Die werknemer se gesteelde voertuig is in Mitchells Plein gevind. Die verdagtes is steeds op vrye voet. Die rowers het met ʼn onbekende bedrag kontant gevlug. Polela sê egter dit word op miljoene rande geraam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.