Veiligheidswagte kan ‘kwalifikasie’ koop vir R650

Argieffoto

Voornemende Gautengse veiligheidswagte kan glo maklik ʼn kwalifikasiesertifikaat bekom vir slegs R650.

Bronne van verskeie veiligheidsmaatskappye het gesê dié wanpraktyk is glo nie ongewoon nie, het EWN Maandag berig. Daar word ook beweer dat verskeie veiligheidswagte wat by hoëprofieleleenthede diens doen, nie gekwalifiseerd is om daar te wees nie.

EWN het ʼn ondersoek van stapel gestuur om die veiligheid by die FNB-stadion te ondersoek voor die internasionale popster, Justin Bieber, en Bon Jovi die naweek daar optree.

“’n EWN-verslaggewer het homself as ʼn voornemende veiligheidswag voorgedoen, en kon ʼn sertifikaat vir R650 bekom wat bewys hy is gekwalifiseer om ʼn vlak E, D en C-beampte te wees,” het EWN berig.

Volgens EWN het die opleidingsentrum in Roodepoort, wat aan hom die sertifikaat verkoop het, ook onderneem om hom op die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf (Psira) se databasis te registreer.

Volgens bronne in die veiligheidsbedryf is dié praktyk algemeen, omdat die bedryf nie behoorlik gereguleer word nie.

Jacques Grobbelaar, ʼn bestuurder by die FNB-stadion, sê dié onthulling is ʼn groot bekommernis. Hy het onderneem dat alle voorsorgsmaatreëls getref gaan word om seker te maak dat al die veiligheidswagte wat by die konserte gaan diens doen, ten volle gekwalifiseer is.

Bron: EWN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.