Veiligheidswagte, polisiebeampte kritiek ná casino-roof

Argieffoto: www.jhblive.com

Agt mense is beseer nadat ʼn groep gewapende mans Maandagoggend die Carnival City-casino in Brakpan aan die Oos-Rand beroof het.

Kapt. Julia Claassen, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 00:20 Maandagoggend plaasgevind. Volgens berigte het ʼn groep van 25 gewapende mans die casino binnegestorm. “Die verdagtes het klante in die casino beveel om op die grond te lê en na die kluis gegaan. Hulle het die kluis met ʼn slypmasjien en hamers oopgebreek en ʼn onbekende bedrag geld geroof,” het Claassen gesê.

Intussen het ʼn skofbestuurder alarm gemaak en die rowers het op die vlug geslaan. “Terwyl hulle gevlug het, het hulle vyf klante aangerand en ʼn ander een geskiet. Die persoon wat geskiet is, is lig gewond.”

Die polisie het op die toneel opgedaag en ʼn skietery het uitgebreek terwyl die verdagtes van die toneel probeer vlug het. “Twee veiligheidswagte van Magnum Sekuriteit, onderskeidelik 30 en 34 jaar oud, en ʼn 33-jarige reservis-konstabel van die Brakpan-polisie is tydens die skietery ernstig gewond. Hulle is tans in ʼn kritieke toestand in die hospitaal,” het sy bygevoeg.

Claassen sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en ʼn grootskaalse soektog na die rowers is van stapel gestuur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.