Veiligheidswagte vang drie kapers

Spanwerk tussen veiligheidswagte en inwoners het daartoe gelei dat drie vermeende kapers agter tralies beland het.

Clive Humphrey, uitvoerende direkteur van ADT se noordelike streek, het Donderdag gesê dié sukses volg nadat hulle ʼn oproep ontvang het dat in inwoner van Garsfontein, in Pretoria, amper gekaap is.

“Maandagaand omstreeks 19:30 het ʼn inwoner gebel en gesê sy vrou was ʼn slagoffer van ʼn gryp-en-spaander kapingspoging op die hoek van Solomon Mahlangurylaan (Hans Strijdom) en Delfistraat,” het Humphrey gesê.

Joseph Mokwana, ʼn veiligheidswag van ADT, het op die oproep reageer en verneem dat drie verdagtes in die voorval betrokke was. Die verdagtes het te voet gevlug na die Moreletaspruit. Intussen is gemeenskapslede se hulp ontbied en meer veiligheidswagte het op die toneel opgedaag om te help soek na die voortvlugtiges. Die drie verdagtes is kort daarna opgespoor en aangehou totdat die Garsfontein-polisie hulle in hegtenis geneem het.

“Die sukses is te danke aan goeie samewerking en betrokkenheid van die gemeenskap. Te danke aan dié poging kon die verdagtes opgespoor en in hegtenis geneem word,” het Humphrey bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.