Veiling van polisiebote in regsproses

Argieffoto

Die beweerde veiling van ‘n vloot patrolliebote wat aanvanklik vir die polisie bedoel is, is tans onder ‘n regsondersoek.

“Die saak is nou in ‘n regsproses en ek kan nie nou bevestig of ons verloor het of nie,” het Lindela Mashigo, woordvoerder van die polisie, gesê. Die Sunday Times het berig dat Suid-Afrikaanse belastingbetalers ‘n R10 miljoen-deposito betaal het om vir dié nuwe vloot patrolliebote te betaal, en nou te sien hoe dit aan iemand anders in ‘n veiling afgestaan word.

Die vier vaartuie is in Januarie 2007 deur die polisie aangevra om hul verswakte watervleuel aan te sterk. Die R32 miljoen-tender om die bote te bou is aan ‘n maatskappy van Kaapstad, Eraco, toegeken. Die maatskappy het egter later ‘n likwidasieaansoek ingedien en die balju het beslag gelê op die bote.

“Die hofproses sal bepaal of ons ons geld terugkry of nie. Ons het nie geweet dat Eraco gelikwideer sou word nie,” het Mashigo Sondag gesê.

Volgens die Sunday Times het die polisie nie ‘n bod by die veiling in 2010 ingedien nie en dit lyk of hulle bereid was om die verlies te aanvaar.

KND Naval Design, ‘n bootvervaardiger in Kaapstad, het die halfgeboude vaartuie by die veiling vir R10 miljoen opgeraap. Die vaartuie sal glo aan die ooskus van Afrika ontplooi word om kommersiële vaartuie teen seerowers te beskerm. Die koerant beweer dat die polisie se watervleuel sedert die veiling nog nie in enige nuwe vaartuie belê het nie, en dat die vloot nou vervalle is. Mashigo sê egter die polisie se watervleuel is tans in ‘n goeie toestand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.