Velvet Sky loop dieselfde pad as Aurora

Die vakbond Solidariteit het vandag verskeie voorstelle oor die hantering van die laekoste-lugdiens Velvet Sky-saak gedoen na aanleiding van die lesse wat in sy geveg teen Aurora geleer is. Volgens die vakbond is dit nou duidelik dat Velvet Sky stap vir stap in Aurora se voetspore volg weens die oorvleueling in betrokkenes.

Velvet Sky is Vrydag  voorlopig in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gelikwideer. Regter Shyam Gyanda het gesê daar is na sy mening geen hoop dat die lugdiens, wat geen bates of kapitaal het nie, gered kan word nie. Gyanda het gesê enige voornemende belegger wat sy sout werd is, behoort te weet Velvet Sky se personeel is drie maande laas betaal, sy vliegtuie is sedert 27 Fe­bruarie gehok en sy kantore is die afgelope drie of vier weke reeds toe.

Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het gewaarsku dat die lugredery se diensverskaffers en werknemers onmiddellik moet optree om te voorkom dat hulle as krediteure in dieselfde bootjie as dié van Aurora beland. Dit volg nadat die hooggeregshof in Pietermaritzburg Velvet Sky Vrydag onder voorlopige likwidasie geplaas het.

Die likwidasie-aansoek deur BP is in Maart vanjaar ter syde gestel ná Velvet Sky se aankondiging dat ʼn misterieuse buitelandse “belegger” die lugredery moontlik uit sy verknorsing kon red. Hierdie selfde valse belofte van ʼn buitelandse belegger het ʼn eentonige wysie in die Aurora-sage geword. Boonop was daar ook weer sprake, soos by Aurora, van ʼn sogenaamde omkeerstrategie. Velvet Sky skuld diensverskaffers na raming reeds meer as R100 miljoen.

Volgens Du Plessis het Velvet Sky nie net dieselfde direkteur en besigheidskonsultante as die gelikwideerde Aurora in diens geneem nie, maar hulle werkswyse is tot dusver byna identies. “Die kommerwekkendste is egter dat die lesse wat uit die Aurora-debakel geleer is, steeds nie hier toegepas word nie.   Die werknemers gaan waarskynlik die grootste verloorders in die proses wees, veral indien dit weer maande sloer voordat daar daadwerklike stappe gedoen word. Soos in die geval van Aurora is daar bevind dat Velvet Sky geen bates of kapitaal besit nie. Hulle skuld hul werkers drie maande se salarisse.”

Solidariteit se voorstelle:

  • Die likwidateurs wat in die Velvet Sky-saak aangestel word, moet dadelik by die hooggeregshof aansoek doen om die uitbreiding van hulle magte sodat ʼn insolvensieondervraging gehou kan word.
  • Die insolvensieondervraging moet alle rolspelers wat agter die skerms by die debakel betrokke was identifiseer en regstappe moet teen hulle gedoen word.
  • In bogenoemde geval sal Solidariteit ʼn beroep doen op die meester van die hooggeregshof om die genoemde ondervraging in die openbaar te hou sodat die betrokke individue en hul wandade  finaal blootgestel kan word sodat hulle nooit weer in Suid-Afrika sake kan doen nie.
  • Die likwidateurs moet die direkteure van Velvet Sky ingevolge artikel 424 van die Maatskappywet vervolg om hulle persoonlik aanspreeklik te hou vir die roekelose bestuur van die lugredery.
  • Die likwidateurs moet die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) by die ondersoek betrek omrede dit in die Aurora-ondersoek duidelik aan die lig gekom het dat die betrokkenes se belastingsake nie in orde was nie.
  • Die Velvet Sky-likwidateurs moet met die Pamodzi Gold-likwidateurs en -regspan vergader en inligting uitruil weens die ooreenkomste tussen die twee entiteite. Verder moet daar ook bepaal word of daar nie van die vermiste Aurora-miljoene by Velvet Sky aangewend is nie, veral in die lig van Solly en Fazel Bhana se betrokkenheid by beide gelikwideerde entiteite. Die Bhanas is na aanleiding van ʼn Aurora-insolvensieondervraging as die sleutelpersone in die Aurora-debakel uitgewys.
  • Die Velvet Sky-likwidateurs moet hulle daarvan weerhou om met die lugredery te onderhandel aangesien dit as ʼn vertragingstaktiek deur die redery misbruik sal word.
  • In aansluiting hierby moet krediteure en eisers hulle daarvan weerhou om enige skikking met Velvet Sky aan te gaan omrede Aurora nie enige soortgelyke skikkings nagekom het nie, maar dit bloot gebruik het om die druk op hulle te verlig en die proses in die wiele te ry.
  • Werknemers van Velvet Sky moet hulle uitstaande salariseise by die Velvet Sky-likwidateurs registreer en onmiddellik ander werk begin soek.
  • Solidariteit sal Velvet Sky-werknemers met graagte adviseer in die lig van sy noue betrokkenheid by die lot van die Aurora-werknemers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.