Verbode rolprent kan nou gewys word

‘n Suid-Afrikaanse sensuur-appèltribunaal het Saterdag ‘n verbod op ‘n rolprent gelig, wat as “kinderpornografie” verbied is weens ‘n sekstoneel tussen ‘n onderwyser en ‘n skolier.

Die plaaslike rolprent, “Of Good Report”, is kwytgeskel ná die organiseerders van die Durbanse internasionale filmfees die verbod gedaag het. Die rolprent sou verlede week die openingsrolprent van dié filmfees gewees het.

Die rolprent sal Sondag, op die laaste dag van die filmfees, vertoon word.

Die rolprent handel oor ‘n skool in ‘n klein dorpie waar ‘n onderwyser, wat aangetrokke is tot jong meisies, uiteindelik ‘n 16-jarige in sy oog kry. Die 16-jarige word deur ‘n 23-jarige vrou vertolk.

Die land se sensuur-owerheid het gesê hy is “baie teleurgesteld en ontsteld” dat sy besluit deur die tribunaal tersyde gestel is. Volgens die Rolprent- en Publikasieraad val die rolprent binne die definisie van kinderpornografie en hou vol dat hul besluit akkuraat was. Die raad het geweier om die rolprent te klassifiseer.

Die rolprent se ouderdomsperk is nou vir mense van 16 en ouer met ‘n waarskuwing van seks, naaktheid, geweld en kru taal.

Die skep, vervaardiging, besit en verspreiding van kinderpornografie is ‘n kriminele oortreding.

Die Instituut van Vryheid van Uitdrukking het die besluit om die rolprent te verbied as ‘n “rigiede en eenvoudige interpretasie van die wet” beskryf.

Seks tussen ouer mans en jong meisies dra grootliks by tot die oordrag van MIV in Suid-Afrika, waar meer as 5 miljoen mense aan Vigs ly. Suid-Afrika se ouderdom van instemming is 16, maar wette bepaal dat die uitbeelding van seks slegs van ouderdom 18 en ouer gewys mag word.

Lees ook:
Rolprent eerste keer sedert ’94 verbied

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.