‘n Emosionele roudiens is Maandag vir Henning in Hartbeespoort gehou. Die polisie het einde verlede week identikits uitgereik van die twee mans wat Henning glo in Faerie Glen, oos van Pretoria, doodgeskiet het. Henning (26) is verlede week doodgeskiet kort nadat sy haar seuntjie, Benjamin (5), by die Morning Star Montessori-kleuterskool afgelaai het. Twee mans op ʼn motorfiets het Henning glo agtervolg en haar deur die venster van haar motor doodgeskiet. Henning het glo vroeër vir haar ouers gesê sy vermoed sy word agtervolg. Die motorfietsryers is glo voor die moord in die omgewing opgemerk. Henning se ouers het intussen volgens berigte toesig verkry oor Benjamin nadat hy eers in ʼn plek van veiligheid geplaas is na die moord op sy ma. Rapport het Sondag berig dat Benjamin glo sy ouma en oupa vertel het dat hy die moord aanskou het.
Volgens die polisie is een van die verdagtes ʼn wit man tussen 35 en 40 jaar oud en sowat 1,7m lank. Hy is maer, het ʼn ligte vel en ʼn snor.

Die ander verdagte is ʼn wit man tussen 50 en 55 jaar oud en sowat 1,86m lank. Hy het ʼn ligte vel en is middelmatig gebou met ʼn boepens.
