Verdagte glo vas na moord op Chanelle Henning

Die vermoorde Chanelle Henning en haar seuntjie Benjamin.

Die polisie sê hy sal Woensdagoggend ‘n mediakonferensie hou rakende berigte dat ‘n verdagte in hegtenis geneem is vir die moord op die 26-jarige Chanelle Henning.

‘n Emosionele roudiens is Maandag vir Henning in Hartbeespoort gehou. Die polisie het einde verlede week identikits uitgereik van die twee mans wat Henning glo in Faerie Glen, oos van Pretoria, doodgeskiet het. Henning (26) is verlede week doodgeskiet kort nadat sy haar seuntjie, Benjamin (5), by die Morning Star Montessori-kleuterskool afgelaai het. Twee mans op ʼn motorfiets het Henning glo agtervolg en haar deur die venster van haar motor doodgeskiet. Henning het glo vroeër vir haar ouers gesê sy vermoed sy word agtervolg. Die motorfietsryers is glo voor die moord in die omgewing opgemerk. Henning se ouers het intussen volgens berigte toesig verkry oor Benjamin nadat hy eers in ʼn plek van veiligheid geplaas is na die moord op sy ma. Rapport het Sondag berig dat Benjamin glo sy ouma en oupa vertel het dat hy die moord aanskou het.

Volgens die polisie is een van die verdagtes ʼn wit man tussen 35 en 40 jaar oud en sowat 1,7m lank. Hy is maer, het ʼn ligte vel en ʼn snor.

Die ander verdagte is ʼn wit man tussen 50 en 55 jaar oud en sowat 1,86m lank. Hy het ʼn ligte vel en is middelmatig gebou met ʼn boepens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.