Verdagte pleeg selfmoord voor polisie hom kan vang

ʼn Verdagte het Donderdag selfmoord gepleeg na polisie in die Oos-Kaap blitsig op ʼn 10111-oproep gereageer het. Die spoedige reaksie het ook tot die inhegtenisnemings van twee ander verdagtes gelei.

Volgens brigadier Marinda Mills, ʼn polisiewoordvoerder, het drie mans Donderdag na bewering omstreeks 12:00 ʼn winkel in die Dalasile-informelenedersetting naby Mthatha beroof.

“Die inwoners het die mans agternagesit en hulle tot by die R63-pad tussen Engcobo en Mthatha gejaag. Die mans het daar ʼn voertuig gestop en gekaap. Hulle kon egter nie ver kom nie, want die voertuig was met ʼn anti-kapings- en opspoortoestel toegerus. Die drie verdagtes het te voet gevlug. Die bestuurder van die voertuig het intussen die polisie deur 10111 te skakel, ontbied. Die verdagtes was oomblikke later deur die polisie vasgetrek,” het Mills aan Maroela Media gesê.

ʼn 21-jarige verdagte het homself geskiet en is op die toneel dood verklaar. Na wat verneem word, het hy kort voor die polisie toegeslaan het, sy familie gebel en gesê hy gaan nie in hegtenis geneem word nie en dat hy sy eie lewe gaan neem. Die sleutel van die gekaapte voertuig, ʼn onwettige vuurwapen en geld wat glo van die winkel geroof is, is in sy besit gekry.

“Die ander twee verdagtes, 22 en 29 jaar oud, is in ʼn nabygeleë rondawel in hegtenis geneem en gaan binnekort in die Mthatha-distrikshof verskyn,” het Mills gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.