Verdagte van 13-jaaroue moord weerlê belydenis

'n Afskrif van Betty Ketani se identiteitsdokument wat na bewering saam met die brief onder die mat opgespoor is

Die vermeende skrywer van ʼn brief wat moontlik ʼn belydenis is op ʼn moord wat 13 jaar gelede plaasgevind het, Carrington Lawton, ontken dat die dokument ʼn belydenis is.

Lawton het Maandag in sy borgaansoek in die landdroshof in Johannesburg gesê dat, indien sy borgaansoek toegestaan word, hy nie sal vlug nie en dat die staat se saak teen hom boonop swak is. Lawton is een van ses mans wat daarvan verdink word dat hulle Betty Ketani 13 jaar gelede vermoor het. Die moordsaak is heropen nadat ʼn belydenisbrief onder ʼn mat in ʼn huis in Kenilworth, suid van Johannesburg, opgespoor is.

Lawton het ook gesê dat hy tydens die moord as ʼn privaatspeurder gewerk het en hy is glo tans die redakteur van ʼn motor-webwerf. Hy het die brief, wat ʼn groot deel van die hofsaak sal uitmaak, se geloofwaardigheid in twyfel getrek. Hy sê daar is baie min objektiewe getuienis wat die bewerings wat in die brief gemaak word, staaf.

Die hof het Maandag die borgaansoek van twee van die verdagtes toegestaan. Die staat glo dat dié twee mans ʼn klein rol in die misdade gespeel het en dat hulle nie by die moord betrokke was nie. Die aanklaers het nie die borg van R20 000 teengestaan nie. Die twee mans sal drie keer per week by ʼn polisiestasie moet aanmeld en hulle sal slegs met toestemming mag reis.

Die vierde verdagte, Conway Brown, het, sonder om enige redes te verskaf, sy borgaansoek laat vaar. Brown het eens op ʼn tyd die huis gehuur waar die brief opgespoor is en waar Betty Ketani se liggaam begrawe is.

ʼn Man wat glo ook ʼn slagoffer van dié groep mans was, en van die mans verlede week in ʼn uitkenningsparade identifiseer het, het gesê hy vermoed sy lewe is in gevaar. Die man was glo twee keer ontvoer en deur die mans gemartel. Hy het gesê hulle het ʼn blinddoek oor sy kop gegooi en hom na ʼn huis buite die stad geneem. Sy vrou glo het saam met Betty Ketani by ʼn restaurant gewerk, maar hulle het nie geweet waar Ketani haarself bevind nie. “Hulle het my na ʼn klein huisie geneem en my begin martel en hulle wou weet waar Betty is,” het die man gesê. Hy is glo ook aangesê om vir ʼn laaste keer te bid, en hy was oortuig dat hy sou sterf. “Hulle het gesê dat, indien ek nie die waarheid vertel nie, ek sou sterf.” Hy het destyds ʼn saak aanhangig gemaak teen die mans, maar daar het niks van gekom nie. Die man kan moontlik as ooggetuie geroep word tydens die hofsaak.

Die huidige eienaar van die huis het die brief opgespoor toe hy nuwe matte laat insit het. Die verdagtes het vermoedelik Ketani vermoor en haar agter in die erf begrawe. Hulle moes later glo die beton oopbreek en haar liggaam elders gaan begrawe. Die verdagtes het haar glo ook vantevore probeer vermoor, maar nie daarin geslaag nie. Hulle het uiteindelik mediese dokumente vervals en ʼn spesiale bussie gehuur om haar uit die hospitaal te ontvoer. Die brief is twee maande gelede aan die owerhede oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.