Verdagte vas oor moord op ouditeur

Lawrence-Moepiʼn Man van Soweto is in hegtenis geneem in verband met die moord op Lawrence Moepi, ʼn forensiese ouditeur.

Moepi (41) is op 18 Oktober in die parkeerterrein van sy kantoor in Houghton, Johannesburg doodgeskiet. Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, sê die 40-jarige verdagte is Saterdagoggend in Soweto in hegtenis geneem. Moepi is glo tot by die firma Sizwe Ntsaluba Gobodo agtervolg en doodgeskiet toe hy uit sy motor geklim het. Die polisie is steeds op soek na ʼn medepligtige. Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Moepi was glo betrokke by verskeie ondersoeke. Sizwe Ntsaluba Gobodo het op sy webwerf gesê Moepi het nou saam met die polisie se handelsmisdaadeenheid en die voormalige Direktoraat van Spesiale Operasies (Skerpioene) gewerk. Moepi het in sy kapasiteit as direkteur van forensiese dienste by PricewaterhouseCoopers in die bedrogsaak van Geoffrey Ledwaba getuig. Ledwaba is ʼn voormalige amptenaar van die Skerpioene. Business Day Live het berig dat Moepi aangestel is om die land se multi-miljardrandse wapentransaksie te ondersoek.Die Sunday Independent het ook vroeër berig dat Moepi ʼn integrale deel van die span was wat die verkope van die vakbondfederasie Cosatu se hoofkantoor in Braamfontein, Johannesburg, ondersoek het. Dié gebou is glo vir R10 miljoen minder as sy markwaarde verkoop. Zwelinzima Vavi, geskorste uitvoerende hoof van Cosatu, is deur talle vennote van die vakverbond beskuldig van wanhantering van die transaksie. EyeWitness News het berig dat Moepi ook ondersoeke namens Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, hanteer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.