Verdagtes bots ná Spar-rooftog

Drie verdagtes is Saterdagaand in Orkney in Noordwes in hegtenis geneem nadat hulle glo ʼn Spar-winkel beroof het en kort daarna in ʼn botsing betrokke was.

Sers. Kelebogile Moiloa, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê ʼn gewapende roof het omstreeks 20:20 by die Spar plaasgevind.

“ʼn Bestuurder van die Spar was besig om die winkel te sluit toe die drie verdagtes in ʼn grys Golf by die winkel opgedaag het,” het Moiloa Sondag gesê.

“Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen op die bestuurder gerig en aangedring op die geld van die winkel wat hy in sy besit gehad het. Die bestuurder het glo ʼn sak vol geld aan hulle oorhandig, waarna die verdagtes weggejaag het,” het Moiloa gesê.

Volgens Moiloa het die slagoffer die polisie ontbied en die grys Golf agterna gesit, maar later die verdagtes verloor.

“Die polisie het kort daarna die verdagtes se voertuig gevind, ná dit gebots het. Die polisie het dadelik die drie mans in hegtenis geneem en beslag gelê op ʼn onbekende hoeveelheid kontant wat vermoedelik by die winkel beroof is,” het Moiloa bygevoeg.

Die drie verdagtes moet Maandag in die Orkney-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.