Die Valke in Welkom, Vrystaat, is tans op soek na verskeie verdagtes ná ʼn rooftog by ʼn supermark Maandagoggend.
“Springstof is gebruik om die kluis se deur op te blaas by ʼn Pick n Pay in die dorp,” het kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, gesê. Daar was glo kontant in die kluis.
Die vermeende diewe het in die publieke toilet in die dak geklim vanwaar hulle in die winkel kon kom. Hulle is met ʼn onbekende bedrag geld, vleis en ander kruideniersware weg.
ʼn Werknemer het omstreeks 05:00, toe hy vir werk opgedaag het, besef daar was ʼn rooftog. Hy het die polisie in kennis gestel.
Thakeng sê daar is met die winkel se alarmstelsel gepeuter en gedeeltes van die kringtelevisiekameras word vermis. “Die agterdeur is oopgebreek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.