Verdagtes steeds soek ná JHB-dosent se moord

Prof Carl Mischke. Foto: uj.ac.za

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op dr. Carl Mischke (47), ʼn voormalige dosent aan die Universiteit van Johannesburg nie.

Mischke is met ʼn skerp voorwerp by sy huis in Norwood, Johannesburg, doodgesteek.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, ʼn Gautengse polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê Mischke se liggaam is Maandag deur sy huishulp omstreeks 10:50 in sy slaapkamer aangetref. “Sy liggaam het in ʼn plas bloed gelê. Sy kop was met ʼn kussing bedek. Geen moordwapen is op die toneel gevind nie,” het Dlamini gesê.

Sy moordenaar of moordenaars het toegang tot sy huis bekom, hom vermoor en sy voertuig en ander waardevolle items gesteel.

“Die rede vir die moord is nog nie bekend nie. Ons versoek die publiek wat meer inligting oor die voorval mag hê, om met die polisie in verbinding te tree,” het Dlamini gesê.

Intussen het EWN berig dat Mischke vermoedelik die negende slagoffer is van ʼn vermeende reeksmoordenaar wat homoseksuele mans in Gauteng en Kaapstad teiken. Na wat berig word, het Mischke glo sy moordenaar of moordenaars in sy huis ingelaat. Sy naakte liggaam het verskeie wonde gehad.

Die polisie vermoed die bende is vir voorvalle in Gauteng en Kaapstad verantwoordelik. Volgens die polisie verkry die bende toegang tot hul slagoffers se huise deur die slagoffers se vertroue te wen en uitgenooi te word. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.