Verdoemende bewyse in oud-Bloubul se moordsaak

Verdoemende bewyse het Maandag in die Durbanse landdroshof aan die lig gekom in die moordsaak van ʼn voormalige Bloubulspeler.

Lt.kol. Sietze Sibo Albertse, vir die staat, het getuig dat die polisie menslike bloed in die voormalige speler, Phindile Joseph Ntshongwana, se badkamer gekry het. Hy het gesê die bloed was nie vir die blote oog sigbaar nie, en spesiale toetse het glo aangedui dat daar bloed in die stort, wasbak en op ʼn handdoek was.

Albertse het gesê die feit dat die bloed nie vir die blote oog sigbaar was nie, dui daarop dat die verdagte probeer het om dit weg te was.

Ntshongwana word aangekla van die moord op Thembelenkosini Cebekhulu in Montclair op 20 Maart 2011. Hy het na bewering twee dae later Paulos Hlongwa vermoor en vir Simon Ngidi die dag daarna. Hy word ook verdink van die moord op ʼn onbekende man later die week. Hulle is almal met ʼn byl doodgekap.

Ntshongwana word verder aangekla van die ontvoering en verkragting van ʼn vrou op 28 November 2010 in Durban. Hy het op al die aanklagte onskuldig gepleit.

Die saak duur voort.

Phindile Joseph Ntshongwana. Foto: sowetanlive.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.