Vergoeding vir onnie ná sy nie met punte wou knoei nie

Die departement van onderwys moet ʼn voormalige wiskunde- en wetenskaponderwyseres aan die Hoërskool Kakamas vergoeding betaal nadat sy onregmatig deur die skoolhoof afgedank is omdat sy nie met sy seun se punte wou knoei om hom te laat slaag nie, het die vakbond Solidariteit Donderdag gesê. Die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (Ravo) het beslis dat die departement Arlene Nel vergoeding moet betaal. Nel is per SMS oor haar afdanking ingelig terwyl sy hoog swanger was.

Moira-Marie Kloppers, woordvoerder van Solidariteit, sê die vakbond is verheug oor die uitspraak aangesien dit ʼn sterk boodskap stuur dat werkgewers wat hul werknemers vir eerlike optrede wil straf, nie geduld sal word nie. “Ons lid het reg opgetree deur te weier om die leerder se punte aan te pas. Ravo het beveel dat Nel vergoeding moet ontvang aangesien daar ʼn redelike verwagting geskep is dat haar kontrak hernu sou word. Weens die ernstige vertrouensbreuk wat tussen Nel en die skoolhoof ontstaan het, het Nel intussen besluit om nie haar loopbaan by die skool voort te sit nie. Ravo sê in sy bevinding dat die skoolhoof dit duidelik gemaak het dat hy Nel nie in die departement se diens wou gehad het nie omdat hy nie daarby sou baat nie.”

Kloppers sê volgens Ravo is die leerders se welstand nie in ag geneem toe daar besluit is dat Nel se kontrak nie hernu sou word nie. “Daar is verder bevind dat die hoof vyandig geraak het teenoor Nel nadat sy geweier het om met sy seun se punte te knoei. Ravo het bevind dat die voorval wel ʼn impak gehad het op die feit dat Nel se kontrak met die skool nie hernu is nie en dat die besluit nie op grond van meriete geneem is nie maar weens die hoof se vendetta teen Nel.”

Nel was sedert Januarie 2012 ʼn werknemer van die Hoërskool Kakamas waar sy wiskunde en wetenskap vir graad 10- tot 12-leerders aangebied het. Sy is in Januarie 2013, ná haar Desemberverlof, per SMS deur die skoolhoof ingelig dat haar dienste by die skool oorbodig is. Haar afdanking volg kort nadat die skoolhoof haar gevra het om sy graad 11-seun se punte vir lewenswetenskappe (biologie) aan te pas sodat hy kon slaag. Nel het geweier aangesien die seun heelwat minder as die minimum persentasie behaal het en onderwysers nie toegelaat word om leerders se punte na willekeur aan te pas nie. Die seun het boonop twee ander vakke ook nie geslaag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SANETTE HENNING ·

Mooi mev Nel baie bly jy het saak aangegee en gewen, daar is nog onderwysers/ e in ons skole nodig. Mnr die skoolhoof jy is geen aanwins vir onderwys of kinders jy is oneerlik en agterbaks en uiters onbetroubaar Onderwysdepartement behoort hoof van amp te onthef geen een van ons wil so mens in posissie he wat oor ons kinders se wel en wee op skool besluit nie

Elf ·

Die hoof moet op sy plek gesit word lyk my van dat hy die skool en kos huis en sport besit by hoerskool kakamas kan hy maak nets wat hy wil da vok man mense soos hy behort nie daar nie en ek weet nie warom en ons ouers het ens nie ‘n se gehad op die dat hy moet ‘n skoolhoof moen word nie so ja en hy wat met skool kinders seks dis nie net di onies nie dis meneer afrikaner wat dit ook doen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.