“Verjaarsdagverkragter” weer in hegtenis geneem

Die sogenaamde “verjaarsdagverkragter” wat “per ongeluk” vrygelaat is terwyl hy verhoorafwagtend was op ʼn rits aanklagte wat verband hou met die verkragting van 12 vroue, is Sondagoggend weer in hegtenis geneem.

ʼn Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Mthunzi Mhaga, sê Mlungisi Mtshali (28) is vroeg Sondagoggend in Pietermaritzburg in hegtenis geneem. Die ondersoekbeampte en Mtshali is glo terug op pad na Johannesburg. Hy sal na verwagting Maandag in die Johannesburg streekshof verskyn. Mhaga het vroeër gesê Mtshali moes Woensdag in die hof verskyn toe daar besef is dat hy “verkeerdelik vrygelaat” is deur die departement van korrektiewe dienste. Mhaga sê Mtshali is al sedert 13 Februarie soek en dat hy glo alreeds verskeie getuies gedreig het en dat hulle “vrees vir hulle lewens.” Mtshali is deur die media gedoop as die “verjaarsdagverkragter” aangesien hy aan jong vroue gesê het dit is sy verjaarsdag en hulle dan genooi het om dit saam met hom te vier. Hy sou hulle dan later vra om saam met hom te ry om sy suster se vriend te gaan haal. Mtshali het dan glo die vroue in ʼn hotelkamer ingelok waar hy hulle verkrag het. Hy staan tereg op 120 aanklagte waaronder verkragting, bedrog, diefstal en ontvoering. Mtshali is glo vrygelaat nadat hy drie maande tronkstraf op ’n ander aanklag uitgedien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.