Die Tshwane-metropolisie het Woensdag verkeer rondom die hospitaal in Pretoria waar oudpresident Nelson Mandela behandeling ontvang, beperk.
Dit is die derde dag dat Mandela (94) in ʼn kritieke toestand in die Medi-Clinic Harthospitaal verkeer. Mandela is op 8 Junie in die hospitaal opgeneem vir ʼn herhalende longkwaal en was tot en met Sondag in ʼn “ernstige maar stabiele toestand”.
Veiligheid is Woensdag by die hospitaal opgeskerp en veiligheidsbeamptes deursoek voertuie wat by die hospitaal opdaag.
Teen Woensdagmiddag het Winnie Madikizela-Mandela hom besoek, asook sy voormalige geneesheer, dr. Veejay Ramlakan, wat jare lank na Madiba se gesondheid omgesien het. Ramlakan het vroeër vanjaar afgetree.
Die presidensie het Dinsdagmiddag laas nuus oor Mandela se gesondheid uitgereik. Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie het gesê Mandela se toestand is “onveranderd” sedert hy Sondagaand as kritiek gediagnoseer is.