Twee verkeersbeamptes en ʼn burgerlike persoon sal Maandag in die landdroshof in Worcester verskyn nadat hulle glo leerlinglisensies in ruil vir geld uitgereik het, het Robin Carlisle, LUR vir vervoer in die Wes-Kaap, gesê.
“Die twee verkeersbeamptes het na bewering leerlinglisensies in ruil vir ʼn aandeel van R2 500 uitgereik wat glo aan die burgerlike persoon oorhandig is,” het hy in ʼn verklaring gesê. “Die burgerlike persoon sal dan per SMS die besonderhede van die lid van die publiek wat die omkoopgeld betaal het, aan die eksaminatore stuur. Die eksaminator sal dan glo afloernotas beskikbaar stel.” Die drie word van bedrog en korrupsie aangekla. Carlisle kon nie bevestig hoeveel lisensies op hierdie manier uitgereik is nie. Hy het versoek dat diegene wat afloernotas ontvang het, as getuies vorendag sal kom. “Die is jou keuse, maar as jy nie vorendag kom nie, dan is ek oortuig die polisie sal jou opspoor.”