Verklikkers – helde of klikbekke?

Onder die probleme wat die Openbare Beskermer onlangs genoem het wat die behoorlike opruim van korrupsie kniehalter is ‘n tekort aan geld en dus ondersoekers, en die negatiewe persepsie wat mense nog oor verklikkers het.

Gelukkig is daar uitsonderings. Patricia de Lille het ‘n geruime tyd op die golf van gewildheid gery na sy dokumente oor korrupsie oor die wapenskandaal, wat iemand aan haar besorg het, binne die veronderstelde regsproses aan die klok gehang het. Die persoon wat die dokumente aan haar oorhandig het, bly egter ‘n onbekende en dus ‘n onbesonge held.

Saterdag het Volksblad op sy voorblad berig oor ‘n kommissie van ondersoek na ongerymdhede van honderde miljoene rande by die munisipaliteit van Matjhabeng by Welkom, wie se verslag nou al sedert Desember verlede jaar op die LUR se lessenaar lê en stof vergaar. Dit beteken die kiesers is intussen stembus toe sonder dat die regering hulle in die vertroue geneem het oor watter politici die koue skouer moes kry. Uit die berig is dit egter moeilik om tot ‘n ander gevolgtrekking te kom as dat Volksblad deur ‘n verklikker op die spoor van dié skynbare toesmeerpoging gebring is.

Onlangs het Afriforum ook aangekondig dat dié organisasie ‘n verklikker onder beskerming geneem het wat die sake aan die lig gebring het waarvoor die Noord-Kaapse LUR, John Block nou tereg staan. Die viktimisasie waaraan die vrou blootgestel is het onder meer verhinder dat sy vir die nodige opvolgwerk met die Openbare Beskermer in verbinding kon kom.

Teoreties word verklikkers juridies goed beskerm, veral deur die Suid-Afrikaanse arbeidsreg. ‘n Interessante manifestasie was toe ‘n voormalige adjunk-direkteur-generaal van Justisie, Moses Tshishonga, vermeende korrupsie met die aanstelling van ‘n likwidateur onder sy hoofde se aandag wou bring. ‘n Groot deel van sy probleem was dat sy destydse minister skynbaar self die bevoordeling van hierdie kontrakteur, Enver Motala, gedryf het. Hy het dus niks uitgerig toe hy sy direkteur-generaal, destyds Vusi Pikoli genader het nie, en net so min toe hy minister Essop Phad in die kantoor van die destydse president Thabo Mbeki genader het. Einde raad het hy ‘n nuuskonferensie belê en met die sak patats vorendag gekom, en is afgedank. Die arbeidshof het twee keer in sy kuns beslis, en die minister se politieke loopbaan was op sy einde.

Die saak het onlangs ‘n nadraai gehad toe Solidariteit onthul het dat Motala – wat steeds as kontrakteur voortgegaan het – voorheen sowat 90 skuldigbevindings agter die blad gehad het wat hom as likwidateur moes diskwalifiseer en dat hy sy naam verander het om dié feit te verdoesel. Motala het dus nog ses jaar na die minister se kop gerol het voortgegaan om kontrakte te kry, waaronder die omstrede likwidasie van Pamodzi.

Dat verklikkers nog wêreldwyd te maklik as lastige klikbekke behandel word, het ook vanjaar geblyk toe ‘n Duitse vrou haar werkgewers suksesvol voor die Europese Hof gedaag en gewen het.

Die probleem waarmee verklikkers dikwels te make het is dat werkgewers ‘n fyn spel ontwikkel het om die lewe vir verklikkers onhoudbaar te maak. Dikwels kan verklikkers die teistering nie meer uitstaan nie en bedank. Hoewel ons regstelsel die konsep van konstruktiewe ontslag ken – dus waar ‘n persoon so geteister word dat hy of sy bedank, is dit ‘n komplekse soort geding wat ‘n slagoffer nie sommer maklik sonder die hulp van ‘n goeie vakbond kan aanpak nie. Solidariteit het al sulke sake suksesvol agter die blad.

In die algemeen is werknemers, veral vroulike werknemers, goed bewus van seksuele teistering, maar daar is verskeie ander vorme. Dit sluit ook professionele teistering in, maar kan opgesom word as dit wat ‘n werkgewer doen, subtiel en andersins, om die lewe vir die werknemer  onhoudbaar te maak. Maar …dis ‘n aspek waar die werknemer die ganse proses liefs hand in hand met die vakbond moet aanpak.

‘n Goeie voorbeeld oor hoekom korrupsie nie geduld kan word nie, het gisteraand in ‘n TV-program oor die e-tolstelsel geblyk. Die AA het daarop gewys dat die staat soms tot vyf keer vir dieselfde padwerke moet betaal voor die werk reg gedoen is. Sou daarin geslaag word om die werk reeds met die eerste kontrak reg gedoen te kry, sal die bestaande fiskale toekennings voldoende wees, en bykomende tolinkomste nie nodig wees nie.

Die sensus loop vandag ten einde om brood-noodsaaklike data te bekom vir die ontwikkeling van die land. Met die vorige sensus het dit geblyk presies hoe noodsaaklik dit was dat mense wat oorgeslaan is, die tolvrye nommer moet bel. Dit is al manier waarop vasgestel kan word wanneer voltooide vorms onder die bome ingevul is. Dit moet ook so gou as moontlik aangemeld word, sodat die sensuswerkers nie reeds betaal en weg is nie. Met die vorige sensus het dit op baie plekke gebeur, en het van die bestuurslui van die sensus vir die suksesvolle afhandeling ongekende bevorderings soms met die oorslaan van range gekry. Toe kom die verslag van die Ouditeur-generaal, en het dit ook geblyk die sensus was ‘n skokkende 17 % uit die kol. Die VSA is ontsteld as hulle ‘n 4 % foutfaktor beleef. Skakel dus die nommer 0800 110 248 om te verseker dat die miljarde rande wat hierdie sensus gekos het, nie ‘n grootliks vrugtelose uitgawe was nie.

‘n Belangrike voorvereiste vir die uitskakeling van korrupsie is egter dat ‘n verklikker die beeld van ‘n held, en nie as ‘n kômmin klikbek nie, moet kry. Die gemeenskap moet so ‘n persoon omarm en bystaan, want so ‘n persoon is in alle waarskynlikheid getraumatiseer, en hangende die uitslag van ‘n verhoor, sonder inkomste.

En selfs al wen die persoon die hofsaak, gaan die blote terugkeer na ‘n ou posisie waarskynlik maar net weer onhoudbaar wees, selfs al het die owerhede die skuldiges elders herontplooi – dit geskied alles in die dampkring van waar kaders mekaar volprop. Al waardeur dit hokgeslaan kan word is dat verklikkers by die nuwe punt van ontplooiing weer die wêreld vir die korrupte te warm maak, en aanhou maak tot die gereg hom self onder die knie, en uit sirkulasie haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.