Verkoolde geraamte in veld gevind

Argieffoto

ʼn Vrou wat in ʼn bos by Bokfontein naby Brits in Noordwes hout versamel het, was geskok toe sy op ʼn verkoolde geraamte in die veld afgekom het.

Lt.kol. Lesego Metsi, ‘n polisiewoordvoerder van Noordwes, het Donderdagmiddag gesê die vrou het Woensdagoggend op die oorskot afgekom en die saak by die polisie aangemeld. “Die Brits-polisie is na die toneel ontbied en het die omgewing deursoek vir leidrade. ʼn Rybewys is in die omgewing gevind, maar dit is nie seker of dit aan die slagoffer behoort nie, en word nog ondersoek,” het Metsi gesê.

Die liggaam is na die staatslykshuis in Brits geneem. Dit is in die stadium nog nie bekend hoe lank die beendere in die veld gelê het nie. Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek begin.

Die polisie versoek enigiemand, veral mense in die Brits-omgeweging wat ʼn familielid vermis, om dit by die Brits-polisie aan te meld. “Enige inligting kan help om die oorskot vinniger uit te ken,” het Metsi bygevoeg. Mense met meer inligting kan die Brits-polisie bel by 012 381 6082 of 012 381 6000/8.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.