Die Johannesburgse prokureur, Ian Jordaan, se tande is vermoedelik eers uitgeslaan voor hy aan die brand gesteek is, berig Rapport.
Jordaan was die prokureur van die vermoorde Teazers-baas Lolly Jackson. Hy is glo Dinsdag ontvoer nadat hy “gelok” is deur mense wat hulle glo as kliente voorgedoen het. Volgens Rapport is daar vroeër die week ʼn groot som geld uit Jordaan se bankrekening na ‘n Bidvest-rekening oorgeplaas. Jordaan se uitgebrande motor is op sy dak onder ʼn brug op die Broederstroompad naby Hekpoort buite Krugersdorp gekry. Jordaan is vermoedelik aan die brand gesteek nadat hy reeds dood was. Die polisie kon nog nie bevestig dat die liggaam in die Jordaan se motor wel sy lyk is nie. Daar is reeds vroeër die week bespiegel dat Jordaan vermoor is as gevolg van sy verhouding met Jackson.