Verkooptransaksie bring hoop vir Jetworx-werknemers

Die verkoop van Jetworx, voormalige bedryfsfiliaal en instandhoudingsvleuel van 1time Holdings, beteken dat die werknemers wat afgelê sou word weens die laekostelugredery 1time wat onder voorlopige likwidasie geplaas is, nou moontlik hul werk gaan behou. Dit kom ná ʼn filiaal van die American Industrial Acquisition Corporation (AIAC) ingestem het om al Jetworx se uitgereikte aandele te koop, het die vakbond Solidariteit Dinsdag gesê.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die verkooptransaksie bring hoop vir Jetworx se nagenoeg 200 werknemers wat die afgelope maand slegs ʼn gedeelte van hul salarisse ontvang het. “Jetworx het voor dit in Augustus 2012 in ’n proses van ondernemingsredding geplaas is, reeds sowat 200 van sy nagenoeg 400 werknemers afgelê. Terwyl Jetworx in ondernemingsredding was, is afleggings vir eers gestaak. Nadat 1time onder voorlopige likwidasie geplaas is, is Jetworx egter genoodsaak om verder afleggings te oorweg.”

Die maatskappy is tans steeds onder ondernemingsredding en die nuwe sakeplan vir die maatskappy word op 15 Januarie bekend gemaak. Hierna sal ʼn proses volg waar die krediteurs van die maatskappy moet stem of hulle ten gunste van die transaksie is.

Solidariteit het die hoop uitgespreek dat die verkooptransaksie suksesvol afgehandel sal word, en Jetworx sy werknemers sal kan behou en verdere afleggings voorkom. Die vakbond hoop verder dat die werknemers wat reeds afgedank is, moontlik die geleentheid gegun sal word om weer by die maatskappy aan te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.