Verkragting, moord: “As ek nie kan vergewe nie, hoe kan ek vergifnis verwag?”

Emilio Jacobs (24) is Dinsdag deur die Pretoriase hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy Vanessa Buys (29) in Desember 2009 verkrag en vermoor het.

Jacobs van Eersterust buite Pretoria het beweer Buys het hom “uitgelok” deur te dreig om haar broers op sy spoor te sit. Buys was ‘n polisiereservis en ‘n enkelma van twee kinders.

Jacobs se ma, Patricia (71) het gehuil toe regter George Webster die vonnis uitgespreek het. Jacobs is lewenslange tronkstraf plus 10 jaar tronkstraf opgelê. Patricia moet nou glo op stukwerk staatmaak om haar kleinkinders te onderhou.

Buys se ma sê haar dogter was deur almal geliefd in Eersterust. “Sy was altyd gelukkig en vriendelik. Sy het almal vertrou,” het sy gesê. “My hart is gebroke oor dit wat hy [Jacobs] gedoen het, maar as ek hom nie kan vergewe nie, hoe kan ek verwag om vergifnis te ontvang?”

Buys se halfnaakte liggaam is ure ná sy lewend gesien is, in ‘n veld in Eersterust opgespoor. Sy het doodgebloei nadat sy verskeie kere met ‘n skerp voorwerp in die nek gesteek is. Sy het ook verskeie skrape en kneusplekke aan haar liggaam gehad.

Jacobs het erken dat hy haar verkrag het voordat hy haar met ‘n gebreekte bottel doodgesteek het. Hy voer aan hy het vroeg die dag alkohol begin misbruik en was ook onder die invloed van dwelmmiddels. Buys het in die vroeë oggendure by die huis gekom en hulle het na ‘n nabygeleë vulstasie gestap om sigarette te koop. “Ons het die heeltyd baklei. Sy het die heeltyd geld gesoek om dwelms mee te koop. Nadat ons die sigarette gekoop het, het ons handgemeen geraak, omdat sy na dwelms op soek was. Ek het haar gegryp, gewurg en haar op die grond gedruk,” het Jacobs verduidelik.

“Ek het haar laat gaan en begin wegloop, maar sy het geskree en my gevloek en gedreig om haar broers op my spoor te sit. Nadat sy ‘n bottel in my rigting gegooi het, het ek baie kwaad geword, omgedraai, die bottel opgetel en haar na ‘n veld naby die pad geneem waar ek haar verkrag het. Ná die verkragting het ek die bottel gebreek en haar begin steek. Ek het haar net daar gelos en huis toe gegaan,” het Jacobs gesê.

Jacobs se regspan het aangevoer dat Jacobs nie ten volle verantwoordbaar gehou kan word vir sy dade nie, aangesien hy onder die invloed van dwelmmiddels en alkohol was en omdat Buys hom gedreig het. Webster het egter gesê Jacobs onthou duidelik wat gebeur het, het duidelik geweet wat hy doen en was nooit in gevaar nie. Webster het bygevoeg ‘n slagoffer se lewe kan nie as minderwaardig beskou word net omdat die aanvaller alkohol en dwelms gebruik het om beter te voel nie. “Dit is jammer dat, ten spyte van die vordering wat ons in die land maak, die voorvalle van geweld teen weerlose vroue nie afneem nie,” het Webster gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.